Geestesgesondheidsprobleme is aan die toeneem en dis veral ons kinders en tieners wat al hoe meer hierdeur geraak word. In vandag se lewe waar stres, trauma, sosiale druk en depressie deel is van ons bestaan, blyk dit dat veral ons kinders en tieners se geestesgesondheid ’n krisis geword het.
Hoekom geestesgesondheid belangrik is: ’n Oorsig
’n Mens se geestestoestand affekteer jou denke, emosies en gedrag en wanneer dit moeilik raak om hierdie gevoelens en gedrag te reguleer en te hanteer, kan dit die eerste teken wees dat jou geestesgesondheid ’n knou weg het. Dit is ook belangrik om te noem dat dit normaal is om soms hartseer, bekommerd of kwaad te voel. Soms knaag jou senuwees, want daar is ’n belangrike eksamen of toets wat jy moet skryf, of jy voel effe terneergedruk om watter rede ook al, maar wanneer die omstandighede verander, voel jy vinnig beter. Dit is egter wanneer hierdie gevoelens nie vanself beter raak nie dat ’n mens soms hulp nodig het. Byvoorbeeld:
- Jy voel nou reeds geruime tyd so oorweldig en dit affekteer jou die meeste van die tyd.
- Jy vind dit moeilik om die goed te doen wat nog altyd vir jou lekker was.
- Jy voel jy het nie beheer oor jou gevoelens nie.
- Daaglikse roetinetake bly agterweë, want jy het eenvoudig nie die kapasiteit om dit te verrig nie.
Wat een persoon se geestesgesondheid raak, is nie noodwendig van toepassing op iemand anders nie, want ons is almal verskillend.
Wat kan lei tot swak geestesgesondheid?
- ’n Gevoel van alleenheid en dat jy uitgesluit word of dat niemand jou verstaan nie.
- ’n Lae selfbeeld en min selfvertroue.
- Probleme by die huis of skool.
- Boeliery of diskriminasie.
- Mishandeling
- Gesondheidsprobleme of ’n chroniese siektetoestand.
- Trauma as reaksie op iets wat gebeur het in jou lewe – dit kan iets kortstondig wees of ‘n gebeurtenis wat oor ’n langer tydperk plaasgevind het.
- Selfbeskadiging (“self-harm”). Jy openbaar selfskadelike gedrag (bv. sny of brand jouself, ens.) en beseer jouself met opset, op emosionele vlak of fisies, om moeilike gebeure of oorweldigende gevoelens in jou lewe te hanteer. Dit kan ’n “gewoonte” of obsessive word, veral as dit jou laat beter voel. Daarom help dit as ’n mens kan bepaal wat hierdie drang na selfbeskadiging sneller.
- Selfdoodgedagtes: Op sigself oorweldigend en vreesaanjaend. Hou in gedagte: Selfdoodpraatjies en -pogings is nie aandagtrek nie. Dit is die optrede van iemand wat geen ander uitkoms sien nie en enige dreigemente moet ernstig opgeneem word.
Geestesgesondheidsprobleme by kinders
“Om in jou kind se geestesgesondheid te belê, is ’n belegging in hulle toekoms.” – Dr Alicia Swart
Milan Murray sê dat dit dikwels moeilik is om te sien daar is fout omdat veral tieners dit so goed wegsteek en kinders so verskillend kan optree. Haar raad is om te let op jou kind se gedrag en as dit op die lang duur verander het, is dit dikwels ’n teken dat alles nie pluis is nie. Dit kan dalk iets wees soos jou netjiese kind wat skielik nie meer so netjies is nie, of jou praterige kind, wat nie meer praat nie, of jou kind wat altyd sy kos geniet het, wat nie meer wil eet nie.
Dr Swart beaam ook dat enige verandering in ’n kind se gedrag, emosies of funksionering as rooivlae gesien moet word – veral by die skool – en dat ouers en onderwysers dit nie moet ignoreer nie. Al is dit op die ou einde “niks” nie, is dit beter om seker te maak, veral omdat probleme kan vererger indien die kind nie die nodige hulp ontvang nie. Dit kan dan later tot ernstiger geestesversteurings lei wat tot in volwassenheid kan aanhou.
Hoe kan ouers die geestesgesondheid van hulle kinders benader?
Milan is van mening dat geestesgesondheid binne die gesin op dieselfde vlak as ander opvoedingselemente gesien moet word. Net soos wat jy jou kind leer om dankie te sê vir die tannie of nie met sy elmboë op die tafel te sit nie, moet jy ook jou kind leer oor hoe om ’n goeie selfbeeld te hê, of hoe om positiewe selfspraak toe te pas of om empatie met die mense rondom jou te hê. Dit moet dus deel raak van die ouerskaptaak.
“As ons dit so sien, word geestesgesondheid in ons gesinne genormaliseer en kan ons daaroor praat,” aldus Milan.
Sy sê verder dat wanneer ons as ouers dit normaliseer om oor ons eie emosies te praat, byvoorbeeld wanneer die pa verbaliseer en noem dat hy daardie oggend baie ontsteld was, of as die ma erken sy was die oggend op haar senuwees, dan leer ons ons kinders dat dit goed en gesond is om oor ons emosies te praat. Maar meer as dit – ons gee vir hulle die woordeskat om daaroor te praat.
“Wanneer jou kind dan wel op ’n punt kom waar sy miskien sukkel met haar selfbeeld of konflik met ’n vriendin het, is dit makliker om gesprekke daaroor te hê – juis omdat dit in julle huishouding genormaliseer is,” sê Milan.
Belangrike punte
- Spandeer gefokusde tyd saam met jou kind en leer jou kind werklik ken. Al is dit net 10 minute per dag.
- Luister aktief en sonder om jou kind te onderbreek. Hou dus die kommunikasiekanale oop sodat jou kind weet hy kan jou vertrou.
- Weet dat kinders verskil weens hulle unieke emosionele samestelling en hoe hulle breine werk en hanteer hulle daarvolgens.
- Wees ontvanklik en beskikbaar: Kinders se emosies ry wipplank en hulle gedrag weerspieël dit. Volwassenes is geneig, of die kind ervaar dit so, om veroordelend hierop te reageer. Daarom is dit belangrik om op ’n nieveroordelende wyse met die kind of tiener te gesels. Ons ken almal daardie sin: “Moenie my judge nie!”
- Veilige ruimte: Skep ’n veilige ruimte waar kinders eerlik kan praat sonder vrees vir oordeel of straf.
- Kry die nodige hulp: Dis ‘n basiese reg vir elke persoon om toegang tot hulp en ondersteuning te kry. Daarom moet ons probleme proaktief identifiseer. Besoek jou plaaslike klinieke, gaan gesels met die onderwyser/skoolhoof, nader maatskaplike dienste of ander professionele instansies.
“As ’n mens ’n hegte band met jou kind het, en hy kom by die tienerfase uit en die wiele val dalk af, dan gaan jou kind na jou toe kom. Dit is die mooiste ding as ’n tiener by jou sit en jy weet die probleem lyk groot, maar omdat daar diepte in julle verhouding is, is dit nie onhanteerbaar nie.”



