Local news

Die ondergang van Promosa: Gebrek aan dienslewering het geen einde

"Dis hoe ons lewe, hier in Hillside," vertel Carmen Smith, 'n inwoner in die Hillside gebied in Promosa.

Rioollekke, waterlekke, slaggate, geen of sporadiese vullisverwydering, geen straatligte, gebreekte stormdreine, onwettige kragkoppelings, gebrek aan werk en ontspanning vir jongmense wat hul na dwelms dryf en gebrekkige water- en sanitasie is die groot kanonne wat Promosa en Hillside uitmekaar skiet.
Marchelle Hendriks, Shinaaz Nikodemus, Samuel Goliath en Patricia Howard is van die inwoners wat deur die rioollekke in Stanlystraat sowel as Poortjiedam benadeel word. “Ons kan nie meer die reuk hanteer nie en die raadslid kan nie omgee oor ons hier onder nie. Jy sien hom net wanneer dit ‘vote’-tyd is,” sê ‘n woedende Marchelle.
“Ons kan nie so opvrot nie,” voeg Shinaaz by. “Ons het buitetoe gekom oor die hitte maar ons gaan nou weer in. Ons kan nie uithou met hierdie reuk nie.”
Inwoners kan al vir maande nie hul deure of vensters oopmaak vir vars lug nie, aangesien die rioolreuk dan hul huise vul.
Wyksraadslid Rufane Makousa van Wyk 21 noem dat hy bewus is van die probleem en dat die opgradering van beide Robertlaan en Areaganengstraat se Pompstasies deel is van die finansiële jaar se begroting.”
Makousa voeg by dat die opgradering van die pompstasies die rioolprobleem sal aanspreek.
Carmen Smith, ‘n Hillside-inwoner, het die Herald deur Promosa en Hillside vergesel en verskeie probleme uitgewys.
In Chris Swartzstraat het Carmen uitgewys dat die teer by die kruising van Chris Swartz- en Parkstraat verwyder is. “Ek weet nie of hier kontrakteurs of iemand was nie, maar soos jy kan sien het baie slegte slaggate begin vorm,” sê Carmen.

Die kruising tussen Chris Swartz- en Parkstraat.

In Fransmanstraat stop Carmen by slaggate wat reeds reggemaak was, maar minder as ‘n maand na die herstelwerk was die slaggate weer oop en uitgery.
Oorkant Promosa Kliniek staan daar ‘n oorvol smeulende skipper met vullishope op die grond. “Hierdie skipper word nie gereeld genoeg leeggemaak nie, dan kom brand die mense die vullis. Dis baie gevaarlik want die kliniek is net hier,” meen Carmen.

‘n Oorvol skipper oorkant Promosa Kliniek word volgens inwoners gereeld gebrand omdat dit nie gereeld genoeg leeggemaak word nie.

In Azilliastraat is daar ‘n waterlek wat vir maande reeds die padoppervlak wegvreet. “En dan sê hulle daar is nie water nie,” voeg Carmen by.

Die waterlek in Azilliastraat is al so lank daar dat die padoppervlak permanent beskading is.

In Aksiepark oorkant die General Dealer hoekwinkel is ‘n stormdrein wat oopgebreek is. “Dit is opgevul, so dit is nie ‘n baie diep gat nie, maar soos jy sien is hier nie straatligte nie, so in die aand is dit baie gevaarlik.” Carmen klim in die gat en die gat strek ver verby haar enkels.

Die stormdrein in Aksiepark hou groot gevaar in, veral in die aand aangesien daar nie werkende straatligte is nie.

Waar Promosa eindig en Hillside begin kan verskeie onwettige kragkoppelings gesien word wat tussen die twee gebiede loop. “Weet jy hoe gevaarlik is dit? En die munisipaliteit het gesê ons moet dit solank doen dat ons krag kan hê. Kan jy dit glo?” Carmen verduidelik dat sy en haar gesin ‘n son-sel gekoop het en grootliks gebruik maak daarvan vir kragvoorsiening, aangesien die onwettige konneksies so gevaarlik is.

Promosa se begraafplaas is in Hillside geleë, en die grafte is net-net sigbaar tussen die lang gras. “Dis baie gevaarlik,” sê Carmen. “Slange skuil in die lang gras. Jy kan nie jou geliefdes besoek nie; baie kere kan mens nie die graf kry tussen die lang gras deur nie. En dan is daar nog die vullis ook,” verwys Carmen na onwettige vullis wat buite en binne die begrafplaas gegooi word. “Die vullishoop word net elke twee tot drie maande skoongemaak.

Die begraafplaas is oorgroei en inwoners is bang om hul geliefdes te besoek as gevolg van slange wat in die gras skuil.
Die ingang na Promosa begraafplaas sien treurig daar uit.

“Hillside is al meer as vier jaar oud, maar ons het steeds geen sanitasie nie. Ons het in ons erf ‘n groot riool-drom laat insit om goed vir ons makliker te maak. Daar is darem al krane ingesit, maar nie by elke huis nie. Baie mense moet loop om water te kry.”

Die Smith-gesin in Hillside het hulle eie drom laat installeer waarna hul riool gaan omdat Hillside steeds geen sanitasiegeriewe het nie.

Carmen vertel verder dat op die kaart van Hillside paaie aangedui is, maar in werklikheid is die paaie nooit geskraap nie. Sy wys een van hierdie ‘paaie’ uit en vertel dat ‘n bejaarde vrou op die hoek bly.
“Nou die dag moes ‘n ambulans kom vir haar, maar die ambulans kon nie inry om haar te kry nie. Hillside het ook geen ligte nie. Ons het fluitjies aangeskaf, dan fluit ons vir mekaar as daar moeilikheid is,” vertel Carmen se man.
JB Marks Munisipale woordvoerder Jeanette Tshite sê dat die munisipaliteit bewus is is van onwettige stortingspunte en maak dit so gereeld soos wat hul hulpbronne dit toelaat skoon. “Die gemeenskap speel ‘n groot rol en moet hul omgewing beskerm waar gerieflike plekke vir onwettige storting is. Die munisipaliteit se huishoudelike afvalverwyderingsdiens word op ‘n weeklikse basis aan alle wyke gelewer,” sê Tshite.

Related Articles

Back to top button