Local news

AfriForum spreek kommer uit oor tekort aan straatligte

Afriforum het na 'n opname bevestig dat meer as 50% van Potchefstroom se straatligte buite werking is.

AfriForum het Dinsdag, 16 April hul kommer uitgespreek oor die groot aantal straatligte in Potchefstroom wat nie in ‘n werkende toestand is nie. Potchefstroom se AfriForum-tak het Donderdag, 11 April ‘n brief aan die munisipaliteit gestuur waarin hul die gebrek aan werkende straatligte dringend aangespreek het. Potchefstroom se AfriForum Buurtwag het in Maart tydens hul buurtwagdienste ‘n opname gemaak van die aantal straatligte wat nie werk nie, en daar is bevind dat minstens 59% van alle straatligte nie in ‘n werkende toestand is nie. Volgens die opnames is daar minstens 91 strate in Potchefstroom wat nie een werkende straatlig in die hele straat het nie. “Sommige hoofstrate wat baie verkeer dra is onrusbarend donker, waaronder Kampstraat waar vier van die 66 ligte werk, in Rocherstraat werk 11 van die 46 ligte, in Steve Bikostraat werk slegs 25 van die 106 ligte en in Chris Hanistraat werk slegs een van die 511 straatligte,” het AfriForum gesê. AfriForum het aan die munisipaliteit genoem dat die tekort aan straatligte die perfekte teelaarde vir misdaad is, aangesien misdadigers in die donker kan skuil en rondbeweeg. AfriForum het ook die gevaar wat die tekort aan straatligte vir motoriste inhou uitgewys. “Dit is gevaarlik om saans in die stikdonkerte te ry omdat die slaggate onsigbaar is en voertuie skade opdoen wanneer die bande ’n slaggat tref. Die feit dat daar op die meeste strate ook nie padmerkers geverf is nie, veroorsaak ook dat motoriste nie in die donker duidelik kan sien waar om te ry nie. Die donkerte is ook ’n gevaar vir voetgangers, want motoriste kan hulle nie sien nie en gevolglik is daar al talle voetgangers doodgery.” AfriForum het ‘n ultimatum aan die munisipaliteit gestel en gevra om teen 30 April met ‘n plan voorsien te word wat stipuleer hoe die munisipaliteit die probleem gaan aanspreek. AfriForum is ook bereid om saam met die munisipaliteit te werk om die probleem op te los, aangesien die probleem verskeie veiligheidsrisiko’s veroorsaak. “Hierdie is ’n baie belangrike oudit wat die buurtwag gedoen het en ons is baie dankbaar vir hul moeite daarmee. “Die buurtwag kan ook eerstehands getuig van die talle probleme waarmee hulle te doen kry, wat ’n gevolg is van die duisternis in die stad. “Ek hoop werklik dat die munisipaliteit hierdie hulp wat aan hulle gebied word met ope arms sal aanvaar en iets daadwerkliks aan die probleem sal doen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. Raak by Potchefstroom se AfriForum-tak en buurtwag betrokke en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak vir Douglas Bourn by 083 232 1020 om by die tak aan te sluit en vir Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om by die buurtwag aan te sluit.

Related Articles

 
Back to top button