Local news

Inwoners bekommerd oor taxi-geweld teen voertuigbestuurders

Kolonel Adéle Myburgh is bewus van die situasie en het gevra dat slagoffers asseblief die gevalle moet rapporteer.

‘n Inwoner van Potchefstroom het die Herald genader nadat die inwoner oor ‘n tyd opgemerk het hoe voertuie wat rygeleenthede aan voetgangers bied, geblokkeer word. Dit het die voetgangers dan noodsaak om van taxi’s gebruik te maak.

“Dit gebeur aanhoudend. Die laaste keer wat ek dit gesien het was Vrydag, 19 April,” noem die inwoner. “Hulle dwing die karre van die pad af, en as hulle dit nie kan regkry nie, blokkeer hulle die voertuig sommer in die pad.” Die inwoner het tydens ‘n vorige geleentheid aan die Herald genoem dat die voetgangers dikwels met geweld vanuit die voertuie geruk word, waarna hul gedwing word om van ‘n taxi gebruik te maak. Die inwoner vertel verder dat dit blyk asof dit die werk van die taxivereniging is. Hoewel dit meestal gewone voertuie is wat die blokkeerwerk doen, dra die bestuurders van hierdie voertuie beffies wat die taxivereniging se logo vertoon.

“Ek neem aan die taxibestuurders probeer hul besigheid beskerm en probeer moontlike kliënte verhinder om van ander vervoer gebruik te maak.” Die inwoner sien gereeld sulke gevalle en is bekommerd oor die veiligheid van die betrokkenes. “Dis nogal sleg, want wat as jy ‘n uber-diens of ‘n ander vorm van vervoer verskaf? Jy word dan ook benadeel. Ek dink hulle weet hulle vat dit nou bietjie te ver. Hulle probeer die taxi’s se werk bewaar, en dit lyk asof die taxivereniging mense aangestel het om seker te maak dat voetgangers nie rygeleenthede op ander maniere kan bekom nie. “Dis ‘n gemors,” merk die inwoner op.

Die inwoner noem dat dit onder die aandag van die verkeersdepartement gebring is. Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het gesê dat hulle bewus is van die probleem, maar dat daar slegs in Februarie twee gevalle gerapporteer is. Albei gevalle het naby en in die CBD taxi staanplek plaasgevind. Kol. Myburgh noem dat die eerste geval op 9 Februarie vanjaar plaasgevind het.

“Dit was die middag tussen 14:30 en 15:00. Die slagoffer (23) het ‘n kliënt by ‘n winkelsentrum opgelaai waarna ‘n taxibestuurder hom aangesê het om na die taxistaanplek te ry om ‘n fooi te betaal. Die slagoffer het geweier, waarna hy deur die gesig geslaan is.” Die tweede geval het op 12 Februarie om 12:56 plaasgevind. Die klaer het ‘n kliënt in James Morokastraat afgelaai waarna hy afgesny is en na die taxistaanplek gevat is. Hy moes R300 betaal om sy voertuig terug te kry. “Die sake word tans ondersoek,” meld kol. Myburgh.

Kol. Myburgh vra dat slagoffers asseblief die gevalle moet rapporteer sodat dit ondersoek kan word. Die gevalle kan by die aanklagkantoor aangemeld word, of by die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Stop Misdaad-nommer: 08600 10111. Die gevalle of inligting kan ook via MySAPS toepassing op selfone gedeel word.

Related Articles

 
Back to top button