Local newsNewsNews

Van kankerdiagnose tot hoop met spesiale hoedjies

Sy was destyds ’n derdejaarstudent in Biochemie en Chemie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) toe sy toevallig op ’n kankerbewusmakingstalletjie in Lovers Lane afgekom het.

Wat begin het met ’n onverwagse kankerdiagnose op net 23-jarige ouderdom, het uiteindelik in ’n projek ontaard wat hoop, ondersteuning en ’n stukkie menswaardigheid aan ander kankerlyers wil bring.

Chanélle Posthumus hekel hoedjies met ‘n projek genaamd “Buckets of Hope,” wat dan fondse insamel vir kankerlyers.

Chanélle Posthumus het nooit gedink dat ’n eenvoudige besoek aan ’n kankerbewusmakingstalletjie haar lewe onherroeplik sou verander nie. Nog minder het sy kon droom dat haar eie stryd teen borskanker eendag die inspirasie sou wees agter ’n projek wat daarop gemik is om ander deur een van die moeilikste hoofstukke van hul lewens te help.

Sy was destyds ’n derdejaarstudent in Biochemie en Chemie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) toe sy toevallig op ’n kankerbewusmakingstalletjie in die PUK se Lovers Lane afgekom het.

Daar was onder meer prosteses van borste en manlike geslagsorgane waarop besoekers kon voel hoe ’n kankergewas voel.

“Toe ek aan die bors voel, het ek geskrik. Dit het presies soos die knoppie in my eie bors gevoel,” vertel Chanélle.

Sy het aanvanklik geen planne gehad om die knop te laat ondersoek nie. Haar pa is in 2023 aan kanker oorlede en sy het destyds selfs erken dat sy nie behandeling sou ondergaan indien sy ooit met die siekte gediagnoseer sou word nie.

In haar gedagtes was kanker iets waarmee sy dalk eers op 60-jarige ouderdom sou moes worstel, nie op 23 nie.

Maar iets binne haar het geweet sy kan nie die waarskuwing ignoreer nie.

“Daar was ’n split sekonde waarin ek ’n gevoel gehad het, amper soos ’n lewe-of-dood-, veg-of-vlug-oomblik. Ek het net geweet ek moet nou luister.”

Sy het probeer om die stemmetjie wat haar aangespoor het om dokter toe te gaan, stil te maak, maar uiteindelik het dit al hoe harder geword.

Een doktersbesoek het gelei tot duisende afsprake, ondersoeke en behandelingsessies. Die diagnose was borskanker.

Die hoedjies wat Chanélle maak

Chanélle het om verskeie redes besluit om haar behandeling by die staatshospitaal te ontvang. Ná haar pa se afsterwe was sy bewus van die finansiële las wat mediese behandeling op ’n gesin kan plaas. Haar mediese fonds sou ook eers in Januarie na die regte plan oorgeskakel word en sy wou nie haar behandeling uitstel nie.

Dit was egter juis in die gange en wagkamers van die staatshospitaal waar sy iets beleef het wat later ’n belangrike rol in haar eie genesingsreis sou speel.

Sy het saam met mense uit alle vlakke van die samelewing gewag. Mense wat nie net die fisieke en emosionele las van kanker moes dra nie, maar ook die bykomende gewig van finansiële bekommernisse.

Tussen behandelingsessies deur het Chanélle begin om vir haarself hoedjies te hekel. Dit was vir haar die gemaklikste manier om haar kop te bedek nadat sy haar hare weens behandeling verloor het.

Maar ander mense het haar hoedjies raakgesien en ook daarvan begin hou.

“Ek onthou verskeie kere waar mense my komplimente gegee het oor my hoedjies.”

Hoewel sy self deur ’n traumatiese tyd gegaan het, was haar ervaring by die hospitaal dikwels ’n eensame een.

Sy het nie veel met ander pasiënte gesels nie. Wanneer kanker die middelpunt van jou hele bestaan word, raak dit moeilik om selfs met iemand anders te praat wat deur dieselfde stryd gaan. Almal is besig om te probeer oorleef, en soms voel dit veiliger om jou eie gedagtes en vrese vir jouself te hou.

Tog het sy, wanneer sy vandag terugkyk, besef dat sy waarskynlik nie die enigste een was wat so gevoel het nie.

Intussen het daar ’n ander gedagte al hoe sterker in haar begin groei.

Sy het dikwels by haar ma gesit en erken dat sy voel daar is iets wat sy moet doen, maar sy weet eenvoudig nie wat nie.

Sy het ander kankerpasiënte op sosiale media bewonder vir hul moed om hul kwesbaarheid te wys en hul stories te deel. Dit het haar minder alleen laat voel, maar sy was self nog nie gereed om so ’n persoonlike deel van haar lewe met die wêreld te deel nie.

“Ek wou nie gesien word nie, maar ek wou help. Ek wou ander mense help en raad gee aan diegene wat swaarkry tydens hul chemoterapie.”

Ná haar dubbele mastektomie het die gevoel nie verdwyn nie. Inteendeel, dit het ’n brandende passie geword wat haar selfs snags wakker gehou het.

Nege maande ná haar diagnose het sy steeds geweet dat sy iets moes doen.

Die eerste tree was egter nie maklik nie.

Een van haar vriende het haar op ’n dag na haar bestraling by die staatshospitaal geneem. Dit was toe dat sy die eerste keer hardop die idee uitgespreek het.

“Ek gaan nog hoedjies hekel en hier kom uitdeel. Sal jy saam met my kom?”

Sy was bang, onseker en het nie geweet waar om te begin nie. ’n Gesprek met een van haar goeie vriende het egter ’n eenvoudige antwoord op haar onsekerheid gebied.

“Begin net klein,” was sy raad.

Maar die werklike keerpunt het gekom ná haar eerste paar bestraling- sessies.

Gedurende die 15 minute wat sy stil moes lê, het haar gedagtes telkens afgedwaal na die mense wat nie dieselfde uitkoms as sy gehad het nie.

Sy het aan haar pa gedink, wat die stryd teen kanker verloor het. Sy het gedink aan ’n 17-jarige kankerpasiënt wat dieselfde gebed as sy gebid het, en aan ’n jong vrou van Pietersburg wie se kanker teruggekeer het.

Almal mense met lewens wat nog geleef moes word.

“Hoekom gaan dit so goed met my?” was die vraag waarmee sy geworstel het.

Tydens ’n oggend se oefensessie saam met haar vriend het hy agtergekom dat iets haar pla. Sy het uiteindelik haar gevoelens met hom gedeel.

Sy het skuldig gevoel omdat haar behandeling goed verloop het terwyl ander mense, soms baie jonger as sy, steeds ’n uiters moeilike stryd gevoer het.

“Wat maak my anders as die volgende persoon met stadium vier-kanker wat ook veg? Ek kon maklik daardie persoon gewees het.”

Dit was die eerste keer dat sy werklik met sogenaamde survivor’s guilt, die skuldgevoelens wat oorlewendes soms ervaar omdat hulle die siekte oorleef terwyl ander dit nie doen nie, gekonfronteer is.

Haar vriend het egter woorde met haar gedeel wat sy nooit sou vergeet nie.

“Ek ken jou pa van geen kant af nie, maar ek weet hy sou trots wees op jou en hy sou nie wou gehad het jy moet so voel nie. Inteendeel, as ek ’n dogter gehad het wat so voel, sou ek ontsteld wees. Ek sou haar eerder wou oortuig om die lewe wat aan haar gegun is, ten volle te leef. Nie net vir haarself nie, maar vir elke persoon wat dit ook wou lewe.”

Die boodskap was eenvoudig: Leef.

Leef nie net vir jouself nie, maar ook ter ere van die mense wat nie meer die geleentheid het om dit te doen nie.

Chanélle het besef dat sy nie haar kankerdiagnose kon verander nie, maar wel kon besluit wat sy daarmee gaan doen.

“Ek het borskanker, ja. Maar ek het die geleentheid gehad om iets daarmee te doen. Om iets mooier te maak as hierdie aaklige siekte en mense in die proses te help.”

En so het Buckets for Cancer ontstaan.

Die eerste tree was ’n sosiale media-plasing waarin Chanélle met haar gradeplegtigheid gespog het. Sy het besluit dat die aantal likes op die plasing sou bepaal hoeveel hoedjies sy gaan hekel.

Sy het gehoop vir 50, dalk 100 likes.

Die plasing het uiteindelik 1 467 likes ontvang.

Wat as ’n klein idee begin het, het skielik momentum gekry. Chanélle het haar eerste bucket hat gehekel, die eerste donasie ontvang en die res, sê sy, was God se genade.

Ander vroue het ingespring om te help hekel. Snowflake en die PUK het ook hul ondersteuning aangebied deur bokse beskikbaar te stel waarin mense donasies kon plaas.

Skielik was dit nie meer net Chanélle se droom nie. Dit was ’n gemeenskaplike poging van mense wat almal dieselfde doel gehad het, om iemand anders se kankerreis ’n bietjie draagliker te maak.

Maar Buckets for Cancer gaan oor veel meer as net hoedjies.

Die projek wil kankerlyers besoek, hoedjies uitdeel en veral met pasiënte gesels oor wat hulle werklik gedurende hul behandeling nodig het. Dit gaan ook daaroor om vriende en familielede van kankerpasiënte met kennis toe te rus sodat hulle hul geliefdes beter kan verstaan, ondersteun en bystaan.

Want soms weet mense eenvoudig nie wat om te sê, wat om te doen of hoe om iemand deur kankerbehandeling te help nie.

En soms is dit juis die kleinste gebare wat die grootste verskil maak.

Vir Chanélle het die reis van ’n 23-jarige student wat ’n knop in haar bors ontdek het, verander in ’n missie om hoop te gee aan mense wat dikwels voel hulle moet hul stryd alleen aanpak.

Sy weet hoe dit voel om in daardie wagkamer te sit. Sy weet hoe dit voel om jou hare te verloor, om bang te wees en om nie altyd die woorde te hê om te verduidelik waardeur jy gaan nie.

Maar sy weet ook hoe dit voel wanneer iemand jou raaksien.

En dalk is dit die grootste betekenis agter Buckets for Cancer om vir iemand wat deur kanker gaan, te wys dat hulle nie net nog ’n pasiënt, nog ’n nommer of nog ’n diagnose is nie.

Hulle is mense. Mense met drome, geliefdes en lewens wat nog geleef moet word.

En soms begin hoop met iets so eenvoudig soos ’n gehekelde hoedjie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button