Solidariteit gee raad oor jou regte en Desemberverlof
As jy nie genoeg verlofdae beskikbaar het vir Desember nie, is dit ʼn goeie idee om met jou baas te praat oor ʼn moontlike kompromie wat beide jou en die organisasie se belange dien.
Baie mense beplan hulle Desembervankansie al maande voor die tyd, maar soms wanneer Desember aan die deur begin klop, werk dinge nie altyd so lekker uit nie. Veral as jy op die nippertjie moet hoor jy mag nie verlof vat, of jy het nie genoeg verlofdae oor nie.
Hier gee Solidariteit raad oor jou regte wanneer dit by verlof en die Desembervakansie kom.
In Suid-Afrika kan die vraag oor verpligte verlof in Desember afhang van verskeie faktore, soos die bedryf, werkplekbeleid en spesifieke werksooreenkomste. Hier is hoe dit gewoonlik werk:
Werkgewer se diskresie en beleide: Werkgewers kan vereis dat werknemers gedurende Desember verlof neem, veral as die werkplek vir die feestyd gesluit word. Dit is egter gewoonlik in die werknemer se dienskontrak of die werkplek se verlofbeleid uiteengesit.
Kollektiewe ooreenkomste: In sekere sektore (bv. die konstruksiebedryf) kan daar kollektiewe ooreenkomste wees wat bepaal dat werknemers verpligte verlof moet neem gedurende spesifieke tye van die jaar, insluitend Desember. Dit sal dan ook in ooreenstemming wees met die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (BCEA).
Wet op Basiese Diensvoorwaardes (BCEA): Die BCEA bepaal dat werknemers jaarlikse verlof moet kry, maar werkgewers word toegelaat om saam met werknemers te beplan wanneer hierdie verlof geneem kan word. Ingevolge die wet moet die werkgewer en werknemer ooreenkom oor die datums. Indien die werkplek toemaak, kan die werkgewer daarop aandring dat die werknemer verlof neem, mits dit in ooreenstemming met die werkplek se beleid en wetlike vereistes is.
Verlofbalans en uitbetalings: Werknemers moet voldoende verlofdae beskikbaar hê vir die tydperk wat hulle verlof moet neem. As werknemers nie genoeg dae oor het nie, mag dit aftrekkings uit hul salaris beteken, of hulle kan versoek om onbetaalde verlof te neem, afhangend van die werkgewer se beleid.
As jy nie genoeg verlofdae beskikbaar het vir Desember nie, is dit ʼn goeie idee om met jou baas te praat oor ʼn moontlike kompromie wat beide jou en die organisasie se belange dien. Dit kan dalk beteken dat julle ʼn ooreenkoms oor gedeeltelike verlof of selfs ʼn reëling oor onbetaalde verlof tref.
Indien jy steeds onseker is oor jou regte in die werkplek, staan Solidariteit gereed om jou te ondersteun. Solidariteit hanteer jaarliks derduisende arbeidsregtelike sake.
Jy kan meer lees by Solidariteit.



