Meisie (8) het hart vir diere by PAWS
Jy kan tot en met 23 Desember vir Mechyla ondersteun.
Mechyla Lyon (8) se grootste wens vir Kersfees is dat al die hondjies en katjies by PAWS die Feesseisoen kos het.
Mechyla, ‘n leerder by Laerskool Bailliepark, is baie lief vir diere, dit is hoekom sy besluit het om die projek te begin om geld vir PAWS in te samel.
Elsie Lyon, Mechyla se ma, sê toe sy haar dogter vra wat sy vir Kersfees wil hê, het sy gesê die beste geskenk vir haar hart sal wees as hulle vir die honde en katte by PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society) kan gaan kos gee.
“Ek is so ongelooflik trots op haar. Sy het die mooiste, sagste hart. Sy is altyd meer bekommerd oor ander as haarself.”
Mechyla en haar ma het besluit om die geld wat hulle aan ‘n Kersgeskenk sou spandeer, eerder te vat en pakkies lekkergoed te verkoop sodat hulle meer geld kan maak om ‘n groter donasie aan PAWS te skenk.
Sy verkoop haar lekkergoed elke dag by Landlink in 43 Peter Mokabastraat. Hulle beplan om die lekkergoed tot en met 15:00 die 23ste Desember te verkoop. Daarna sal hulle op die 24ste Desember die oorhandiging aan PAWS maak.