Nog drie verdagtes vasgetrek ná wrede plaasaanval op Donovan Marx
Tydens die operasie het die polisie beslag gelê op vier vuurwapens, waarvan twee met die Ventersdorp-voorval verbind word.
Vyf verdagtes is nou in hegtenis geneem in verband met die gewelddadige plaasaanval en poging tot moord op die Ventersdorpse boer, Donovan Marx, nadat nog drie verdagtes vandag, Sondag, 1 November in Promosa, aangekeer is.
Die jongste inhegtenisnemings bring die totale getal verdagtes wat met die aanval verbind word op vyf te staan.
Volgens die polisie is die drie verdagtes deur die Ventersdorp-speurders, met ondersteuning van lede van die provinsiale teenbende-eenheid, in Promosa in hegtenis geneem ná intensiewe ondersoek- en operasionele werk.

Tydens die operasie het die polisie beslag gelê op vier vuurwapens, waarvan twee met die Ventersdorp-voorval verbind word. Klerasie en juweliersware is ook op beslag gelê.
Dit volg nadat Marx op Woensdag, 28 Oktober, tydens ’n gewelddadige plaasaanval op sy plaas in die Syferfontein-omgewing geskiet en wreed aangerand is. Sy ore is tydens die aanval afgesny.
Die eerste twee verdagtes is reeds vroeër in hegtenis geneem nadat die polisie die aand van 31 Oktober bevestig het dat hulle twee van die drie aanvanklike verdagtes vasgetrek het.
Noordwes-polisiekommissaris, luitenant-generaal Arthur Peter Adams, het die jongste inhegtenisnemings verwelkom en die Ventersdorp-speurders en provinsiale teenbende-eenheid vir hul volgehoue werk bedank.
Volgens kolonel Adele Myburgh het die ondersoekspan, onder leiding van kapt. Bonita Dry, onverpoos gewerk om die verdagtes op te spoor.
Adams het gesê die inhegtenisnemings toon die polisie se verbintenis om persone wat gewelddadige misdade teen gemeenskapslede pleeg, aan die pen te laat ry.
“Ons prys die ondersoekspan, onder bevel van kapt. Bonita Dry, vir hul volharding en vasberadenheid om leidrade op te volg, wat tot verdere inhegtenisnemings en die herwinning van vuurwapens en ander items van bewyswaarde gelei het,” het Adams gesê.
Die vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 26 en 56 jaar, sal na verwagting Dinsdag, 3 November, in die Ventersdorp- en Potchefstroom-landdroshowe verskyn.
Hulle staan tereg op aanklagte van huisroof, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Marx sterk steeds in die Mediclinic Potchefstroom aan.



