Vyfjarige dood tydens dronkbestuur-insident
Die ma en baba is ernstig tydens die insident beseer en die vyfjarige is opslag dood.
‘n Vrou (29) sal vandag 27 Desember op aanklag van strafbare manslag en die bestuur onder die invloed in die Brits-landddroshof verskyn. ‘n Ma en twee van haar jong kinders is op Kersdag deur die vrou raakgery.
Die ma en baba is ernstig tydens die insident beseer en die vyfjarige is opslag dood.
Kol. Adéle Myburgh sê volgens inligting het ‘n swart Amarok-bakkie in Simon Bekker-rylaan in Kosmos, in Hartbeespoortdam, teen ‘n ma (22) en haar twee kinders vasgery. Die vyfjarige is op die ongelukstoneel dood verklaar, terwyl die ma met ernstige kopbeserings en die baba in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem is.
Die verdagte is Kersmiddag deur Hartbeespoortdam-polisie gearresteer en dadelik van strafbare manslag en die bestuur onder die invloed van alkohol of ‘n dwelmmiddel wat ‘n narkotiese effek het, aangekla.



