Ouers in die hof vir kinderverwaarlosing
‘n Ma en pa van die Noordwes het glo hulle baba by die huis gelos terwyl hulle gaan drink het.
’n Ma (21) en pa (26) het Dinsdag, 24 Desember in die Klerksdorp-landdroshof verskyn vir die beweerde verwaarlosing van hul 14 maande oue babadogtertjie in Tigane, naby Hartbeesfontein.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die polisie is Maandag, 23 Desember in die vroeë oggendure in Tigane na ‘n huis ontbied. Die polisie is ‘n verlate babadogtertjie uitgewys wat huilend voor ‘n erf gevind is.
“Aanvanklike polisieondersoeke het aangedui dat die ouers na bewering hul baba by die huis gelos het en na ‘n nabygeleë taverne gegaan het. Later het die ma die pa teruggestuur huis toe om die kind te gaan haal, maar hy het die baba in die straat gelos nadat hy glo deur onbekende s’n agternagesit is. Die ouers is na die polisiestasie toe hulle nie hul kind kon kry nie en is dadelik in hegtenis geneem.”
Albei ouers is borgtog van R300 elk toegestaan en die saak is tot Woensdag, 5 Februarie 2025 uitgestel.



