Gee ML Fick se gelukbringer ‘n naam
Die Potchefstroom publiek kan op die uitkyk wees vir die Koedoe, wanneer hy eersdaags sy verskyning maak by skool- en ander publieke geleenthede!
Laerskool M.L. Fick het vandeesweek ‘n nuwe toevoeging by die Emmie-familie verwelkom. Dié gelukbringer dien as simbool van trots, eenheid en tradisie by die skool.
Hy word amptelik bekend gestel tydens die Colour Run op 26 Februarie by Hoër Volkskool se sportterrein en sy aankoms word gevier met ‘n lekker kompetisie waaraan elke Potchefstromer kan deelneem.
Die koedoe benodig ‘n naam en die publiek kan hul voorstelle lewer in die kommentaar gedeelte op Laerskool M.L. Fick se Facebookblad – die persoon wat die mees oorspronklike naam uitdink, wen ‘n naweek-wegbreek by Limerick Lodge.
Die Potchefstroom publiek kan op die uitkyk wees vir die Koedoe, wanneer hy eersdaags sy verskyning maak by skool- en ander publieke geleenthede!
“Ons het die groot eer om ons nuwe gelukbringer by Laerskool M.L. Fick te verwelkom. Ons gaan hom eersdaags behoorlik aan jul bekendstel, maar vir nou deel ons ‘n paar interessante feite oor hom,” het die skool in ‘n verklaring gesê.
- Koedoe het 12 matriekonderskeidings gekry – in Graad 1.
- ‘n T-Rex het eendag vir Koedoe skeef aangekyk… ons almal weet wat het met die dinosourusse gebeur…
- As Koedoe ‘n woord verkeerd spel, verander die HAT die spelling van daardie woord om by Koedoe aan te pas.
- Koedoe kan Braille praat en gebaretaal hoor.
- Koedoe dra nie ‘n horlosie nie. Hy besluit hoe laat dit is.
- Koedoe hou ‘n joernaal van sy lewe. Die naam van die joernaal is ‘Guinness Book of World Records‘.
- Koedoe kan teen enigiemand ‘n armdruk-kompetisie wen met beide sy hande agter sy rug.
- Koedoe het geweet wat Dricus du Plessis weet, voordat Dricus dit geweet het.
“Ons is baie opgewonde om hom by Emmies te verwelkom en hoop hy voel sommer gou tuis!”




