Van perdfris en gesond tot dodelik siek
Jos is na vyf dae ontslaan en skaars twee weke later was hy maar net weer terug in die hospitaal.
Jos Wahl (44), sy vrou, Francis en hulle kinders se hele lewe het laasjaar November verander toe Jos skielik siek geword het. Die gesin sukkel nou maande en vele operasies later om net kop bo water te hou.
Jos vertel hy het 27 November 2024 ‘n snaakse brandgevoel op sy maag begin kry. Hy het eers gedink dit is ‘n maagaandoening, maar teen 10 uur daardie volgende oggend kon hy dit nie meer hou nie.
“My vrou het my kom haal en my kliniek toe gevat. Toe die suster by die kliniek my sien, het sy gesê ek moet dadelik hospitaal toe gaan.”
Ongelukkig moes hulle meeste van die dag by die hospitaal wag om mediese hulp te kry. Eers het dokters gedink dit is Jos se blindederm, maar nadat hulle nie die fout kon opspoor nie, het hulle besluit om ‘n operasie te doen, sy maag oop te maak en te kyk wat fout is.
“Ek kon nie plat lê nie, dit het gevoel asof ek wil versmoor. Ek is die volgende dag gevat vir die operasie nadat hulle niks op die x-strale kon sien nie,” vertel Jos.
“Jos was amper dood op die operasietafel,” vertel Francis.
“Dit was ‘n maagsweer wat gebars het. Hulle het dit nie opgetel nie omdat hy nie simptome gehad het nie. Sy maagsure het in sy maag uitgeloop en sy derms beskadig. Hy het septisemie opgedoen, maar in daardie stadium het ons dit nie geweet nie.”
Jos is na vyf dae ontslaan en skaars twee weke later was hy maar net weer terug in die hospitaal.
“Daar het gate in die sny op my maag begin oopgaan. Eers het die dokter gesê dit maak nie saak nie en dit sal van binne af gesond word, maar toe begin my derm deurdruk,” gaan Jos voort.
Jos is toe in vir ‘n tweede operasie en slegs drie dae later ontslaan.
“Daar het weereens gate in sy maag begin val, wat ‘n breek veroorsaak het, maar in daardie stadium het ons dit nie geweet nie. Ons het ‘n suster gekry om te kom help om die wonde by die huis te versorg,” sê Francis.
Teen Februarie is Jos se siekverlof op en het die gesin aansoek vir UIF gedoen, maar die proses neem baie lank. Intussen het hulle agter geraak met hulle huur en sukkel om kos op die tafel te hou.
Daardie selfde maand het Jos ‘n terugslag gehad. Hy het baie siek geword en het vreeslik begin hoes. Hy het ook bloed begin uithoes. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem waar hy met longontsteking gediagnoseer is. Hy was vir ses aande in die hospitaal op suurstof voordat hy weer ontslaan is.
Jos is 18 Maart weer terug na die hospitaal toe, waar uitslae van sy CT-skandering gewys het dat onder sy ribbekas, by sy maag, ‘n sak wat bloed inhou, hang. Hy is 19 Maart na Tshepong Hospitaal, waar dokters die sak bloed gaan probeer dreineer aangesien Jos te swak is om nog ‘n operasie te ontvang.
Jos is in hierdie stadium die enigste broodwinner in die huis aangesien sy vrou permanent na hom moet omsien. Dit gaan baie swaar met die gesin en die eienaar van die huis waar hulle huur, wil hulle uitsit as gevolg van uitstaande huur.
Indien jy ‘n bydra wil maak om die gesin te help om weer op hulle voete te kom, kan jy ‘n donasie by hulle Backabuddy skakel maak: https://www.backabuddy.co.za/ campaign/jos-wahl






