‘Vat verniet’- tafel vir haweloses
Die doel is om Potchefstroom se mees kwesbares te help om toegang te kry tot die alledaagse basiese dinge.
Omstreeks 17:00 op Saterdag, 12 Julie, sal ‘n ‘Vat verniet’-tafel in Moorivier Beskerming se parkeerarea opgestel word. Niks sal verkoop word nie, maar haweloses en behoeftige mense van Potchefstroom sal die kans kry om verniet, sonder oordeel en met waardigheid vir hulle items te kom haal wat hulle benodig.
Die inisiatief is deur Angelique Lottering en haar vriendin, Janene de Beer begin met die doel om Potchefstroom se mees kwesbares te help om toegang te kry tot die alledaagse basiese dinge wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar.
Angelique vertel Janene, ‘n pastorale tienerberader, het ‘n hart vir mense.
“Sy het verlede naweek die initiatief geneem om sop vir behoeftige mense te gaan uitdeel. Ons het haar gaan help en ongeveer 40 koppies sop uitgedeel. Dit is toe wat sy met die idee van die ‘Vat verniet’-tafel opgekom het.”
Angelique sê die projek het klein begin, maar vinnig geëskaleer en dat hulle nie besef het hoeveel mense bereid is om te help nie.
“Die uitdaging is net om die woord by die regte mense uit te kry, want haweloses en behoeftige mense het nie noodwendig sosiale media nie. Ons maak staat daarop dat mense die woord sal versprei.”
Daar sal seep, klere, skoene, sokkies, toiletware, kos, handdoeke, vitamiene, basiese medisyne, selfs iets so eenvoudig soos vuurhoutjies of ’n blikoopmaker beskikbaar wees.
“Ons besef ook daar is ‘n groot behoefte vir mense om hulself te was, so ons sal water beskikbaar stel en self ook mense help deur voete te was, soos wat Jesus voete gewas het. Dit is ons hart agter dit, om vir mense Jesus te wys.”
Inwoners word aangemoedig om enige skoon, bruikbare items te skenk, van tweedehandse klere tot basiese higiëneprodukte, nie-bederfbare kos of warm komberse. Skenkings kan vooraf afgegee word, of direk by die tafel op Saterdagmiddag afgelaai word.
Angelique is ook beskikbaar om versamelings te koördineer of enige vrae te beantwoord. Sy kan direk gekontak word by 067 080 2757.



