Antiekmark weer om die draai
Die gewilde Antiekmark is weer om die draai. Maak seker jy gaan kyk watter interessanthede is te koop.

Dis heerlike lente, die winter is verby en dis weer tyd vir die immer gewilde Antiekmark in Potchefstroom op Saterdag 6 September 2025!
Die Antiekmark fokus op oudhede, versamelitems, antiekware, ou kaste, matte, boeke, kunswerke, porselein, antieke juwele, speelgoed, silwerware en nog vele meer. Royal Albert porselein, Sheffield silwer en Waterford kristal sal jou weglei na ‘n antieke en vintage droomwêreld.
Daar gaan weereens ‘n paar antieke en klassieke motors te koop aangebied word!
Kom kuier en geniet soos oudergewoonte ‘n mondvol van smullekker kos. ‘n Verskeidenheid boetiekwyne en handgemaakte jenewer sal die dors les terwyl die klanke van ‘n trekklavier die atmosfeer betower.
Dis ‘n mark propvol tekstuur, vintage-styl en inspirasie, en beloof om ‘n visuele en sensoriese ondervinding te wees van ouds.
Die Antiekmark vind plaas vanaf 08:00 tot 15:00 by die Van Rooyen Saal-kompleks in Piet Bosmanstraat, Potchefstroom. Toegang is gratis!
Kliek hier vir meer inligting.
Antiekmark Potchefstroom | Facebook



