Vier keer lewenslank vir stiefpa wat dogter verkrag
Staatsaanklaer Annecke Du Toit het vir maksimum tronkstraf aangevra.
‘n Stiefpa (48) is vier keer lewenslank plus ses jaar gevangenisstraf deur die streekhof in Potchefstroom opgelê nadat hy sy stiefdogter verkrag het.
Hy is skuldig bevind aan vier aanklagte van verkragting en een aanklag van seksuele aanranding wat in September 2022 gepleeg is.
Sivenathi Gunya, kommunikasiebeampte van die Nasionale Vervolgingsgesag, sê die skuldigbevinding het ontstaan uit voorvalle wat in September 2022 in die Tshing-lokasie naby Ventersdorp begin het.
“Die slagogger se stiepfa, het die 12-jarige slagoffer seksueel geteister deur aan haar borste te raak terwyl sy gestaan en stryk het. Die slagoffer se ma is blind. Oor die volgende vier agtereenvolgende dae het hy haar tuis verkrag terwyl haar moeder afwesig was. Na die vierde dag het die slagoffer die mishandeling by haar moeder aangemeld, wat die polisie in kennis gestel het.”
Die beskuldigde is op 19 September 2022 in hegtenis geneem en is borgtog geweier.
In die hof het die beskuldigde onskuldig gepleit, maar sy getuienis was teenstrydig en vol onwaarskynlikhede. Staatsaanklaer Annecke Du Toit het vir lewenslange tronkstraf aangevoer, en beweer dat geen wesenlike of dwingende omstandighede ‘n mindere vonnis regverdig nie, en het sy gebrek aan berou beklemtoon. Die hof het ingestem en vier lewenslange vonnisse vir die verkragtings en ses jaar vir seksuele aanranding opgelê, wat gelyktydig uitgedien sou word.



