Drie sterf tragiese waterdood tydens doopseremonie
Twee volwasse mans en 'n jeugdige van Potchefstroom het Sondagmiddag in die Vaalrivier verdrink.
Daar is Dinsdag nog onverpoosd gesoek na die liggame van twee volwasse mans en ‘n jeugdige van Potchefstroom wat Sondagmiddag om ongeveer 14:00 in die Vaalrivier naby Parys se geskiedkundige hangbrug verdrink het.
Na wat verneem is het die tragiese voorval tydens ‘n doopseremonie gebeur.
Die rivier loop baie sterk by die stroomversnellings by ‘n klipplaat naby die brug waar die mans Sondag deur die water meegesleur is.
Teen Dinsdagmiddag het die soektog deur adjudant-offisier Hollie Holtzhausen van die K9 Soek-en-Reddingseenheid in Sasolburg, en duikers van die polisie in die Vrystaat nog niks opgelewer nie.
Waarsku teen gevaar
Inwoners in die omgewing van die hangbrug het in die verlede al ‘n ernstige pleidooi tot die Ngwathe munisipaliteit gerig om waarskuwingsborde by die hangbrug aan te bring om veral kinders te waarsku teen die gevare daaraan verbonde om in die rivier te swem. Oor die jare was daar al verskeie verdrinkings spesifiek by die hangbrug. Einde September het ‘n man ook by die hangbrug gesterf nadat hy vir sekuriteitsbeamptes gevlug en toe in die rivier gespring het.
Stroomversnellings
Mense misgis hulle dikwels met stroomversnellings en is die rivier baie gevaarlik veral in tye wanneer daar verhoogde watervloei is soos wat nou ook die geval is.Alkoholgebruik langs die rivieroewer skep ook ‘n gevaar wanneer mense minder bedag is op waterveiligheid.




