Vandag neem ons afskeid van ’n geliefde man, ons pappie, ons oupie, broer, swaer en vriend. Nick Claassen was ’n toegewyde eggenoot, ’n liefdevolle pa, ’n trotse oupa, die hoeksteen van ons familie en ’n ware vriend vir soveel mense. Hy is op 11 Januarie op die ouderdom van 80 oorlede.
Hy was ’n vegter – iemand wat hard baklei het tot die einde toe. ’n Man wat nooit maklik opgegee het nie, en wat met stille krag en deursettingsvermoë ’n voorbeeld vir ons almal was.
Sy hande het gewerk, gebou en herstel, sy hart het geleer, liefgehad en omgegee.
Vir ons familie was hy soveel meer as net ’n eggenoot, of ‘n pa, of ‘n oupa. Hy was raadgewer, beskermer, storieverteller en rots. Sy stoel, sy roetine, sy liefde vir die klein dinge – dit alles sal altyd deel wees van ons herinneringe.
Al is ons harte vandag swaar, troos ons onsself met die wete dat hy nou rus. Geen pyn meer nie, geen swaarkry meer nie. Ons weet hy is veilig in God se arms, volkome genees en omring deur vrede.
Ons dank God vir die voorreg om hom te kon liefhê, om deur hom liefgehê te word, en vir die nalatenskap wat hy agterlaat in elke lewe wat hy geraak het.
Rus sag, Oupie.
Jy sal vir altyd in ons harte leef.
‘n Oorwinningsdiens sal Vrydag, 16 Januarie om 10:00 by NG Kerk Miederpark te Aarbeilaan 22, Potchefstroom vir Nick gehou word.



