Departement ondersoek die dood van matriekmeisie
Noordwes se gesondheidsdepartement ondersoek nou die dood van ’n Gimmie-matriekmeisie weens komplikasies ná ’n skildklieroperasie. Carridean Isaacs (18) is op 16 April in die Potchefstroomse provinsiale hospitaal geopereer om ’n sist aan haar skildklier te verwyder. Die familie oorweeg ook regstappe en wil ’n klag teen die hospitaal by die polisie indien, het Carridean se …

Noordwes se gesondheidsdepartement ondersoek nou die dood van ’n Gimmie-matriekmeisie weens komplikasies ná ’n skildklieroperasie.
Carridean Isaacs (18) is op 16 April in die Potchefstroomse provinsiale hospitaal geopereer om ’n sist aan haar skildklier te verwyder. Die familie oorweeg ook regstappe en wil ’n klag teen die hospitaal by die polisie indien, het Carridean se niggie, Regatha Pretorius, gesê. Die operasie op Carridean was ’n sukses en sy was wakker daarna, maar het enkele ure later ’n hartstilstand gehad. Sy is weer bygebring, maar sy het epileptiese aanvalle begin kry en is later breindood verklaar.
Lewensondersteunende masjiene is op 24 April afgeskakel. Carridean is Saterdag begrawe. Haar familie soek egter steeds antwoorde. Volgens Pretorius wag hulle nog op die uitslag van bloedtoetse. Tydens die nadoodse ondersoek verlede week op Carridean, kon nog nie vasgestel word wat die komplikasies veroorsaak het nie. Clement Isaacs, Carridean se oom, het ’n klag by die nasionale departement van gesondheid ingedien. Dié departement het dit na die provinsiale departement verwys, wat die voorval nou ondersoek.
Carridean se ma, Denise, wil berusting kry dat nalatigheid nie ’n rol gespeel het in haar dogter se dood nie. Indien daar wel nalatigheid was, sal vergoeding help om ’n toekoms vir Carridean se tweejarige dogter, Caydene, te help verseker, het Pretorius gesê. Isaacs sr. sal haar nou moet grootmaak. “Sy het haar nog geborsvoed,” het Isaacs gesê. Carridean het goed presteer en wou volgende jaar regte gaan studeer. Roelof Oosthuizen, hoof van Potchefstroom Gimnasium, het gesê Carridean het ná die geboorte van haar dogtertjie teruggegaan skool toe. “Sy het nooit verskonings gesoek nie. Carridean was ’n oulike, gewilde kind wat goed presteer het.”
Modiri Mompati, woordvoerder van die Potchefstroomse provinsiale hospitaal, het gesê die hospitaal ondersoek die voorval en sal binnekort met die familie vergader.