Twee wagte van pres. Jacob Zuma is glo heeltemal onskuldig in ’n beweerde padwoede-voorval twee jaar gelede op die N12 buite die stad, het die Potchefstroomse streekhof Dinsdag gehoor.
Hul prokureur, Jaco Fourie, het in sy slotbetoog gesê ao. Sankoela Lepota was net ’n passasier en passiewe toeskouer in die gebeure.
Sy mede-beskuldigde, ao. Malose Makonyane, het nie bedoel om op ’n motoris te skiet nie, want sy dienspistool het per ongeluk afgegaan, het Fourie aangevoer.
Lepota en Makonyane sal nou op 2 November hoor of hulle skuldig is wanneer na verwagting uitspraak in die saak gelewer word. Hulle word aangekla van poging tot moord, die rig van ’n vuurwapen, die afvuur van ’n vuurwapen in ’n openbare plek en roekelose of nalatige bestuur.
Dit spruit uit die voorval in Augustus 2013 op die snelweg, toe hulle glo te vinnig gery en op ’n motoris in ’n Fiat Uno geskiet het.
Die klaer, Schalk Enslin van Klerksdorp, het vroeër getuig hy en sy vrou, Nedine, het vir hul lewens gevrees toe Makonyane glo met ’n wit Volkswagen Polo van agter op hulle afgejaag, ’n pistool op hulle gerig, geskiet en hulle van die pad gedwing het.
Die koeël het een van die Uno se wielvellings getref. Enslin het vroeër getuig die twee beskuldigdes het van die toneel gejaag.
Mardie Ackermann, vir die staat, het Dinsdag in haar slotbetoog aangevoer Enslin en die ander staatsgetuies se weergawes stem ooreen.
“Dis duidelik die beskuldigdes het in die ry op die klaer se voertuig geskiet. As polisiemanne moes hulle juis die moontlike ernstige gevolge hiervan besef het.”
Lepota en Makonyane het getuig hulle moes vinnig ry omdat hulle ’n voertuig vir Zuma in Kimberley moes gaan haal en teen 16:00 die middag weer terug in Pretoria wees. Volgens hulle was dit Enslin wat hul weg met sy Uno probeer versper het. Makonyane en Lepota het getuig ’n skoot het per ongeluk uit Makonyane se dienspistool afgegaan toe hy uitgeklim het nadat albei voertuie langs die pad gestop het. Volgens Makonyane het hulle eers van die toneel gery nadat Enslin gesê het alles is in die haak en hulle kan maar gaan.
Fourie (vir die beskuldigdes) het in sy betoog gesê die staatsgetuies se weergawes het verskil en dat Enslin se vrou, Nedine, tydens die gebeure op haar selfoon gepraat en gespanne was.
“Haar getuienis bring die saak nie veel verder nie.” het Fourie gesê.