SportSport

‘n Luiperd in murg en been ploeg terug as afrigter

HP Swart is weer terug by die Luiperds - hierdie keer as voorspelerafrigter.

Daar is weer ’n bekende gesig terug by die Luiperds met die voormalige kaptein, HP Swart, wat nou as die voorspelerafrigter by die Luiperds aangestel is.

Swart (37) het 13 jaar lank as speler by die Luiperds diens gedoen en sy hart en siel in die Luiperdstrui gesit. Dit is juis hierdie passie wat hy nou ook in sy afrigting wil terugploeg, saam met die Luiperds se hoofafrigter, Riaan van Straten.

“Dit voel vir my amper asof ek nie weg was nie. Soms wil ek sommer saam met die manne weer inklim,” lag Swart.

Hy noem dat daar ’n paar voorspelers is wat X-faktor besit. Die Luiperds is tans besig om vir die komende seisoen voor te berei.

“Ons werk hard aan lynstane en ek glo ons skrums gaan ook ’n goeie platform skep vir die agterspelers.

“Ek het baie by topafrigters geleer en ek wil nou die volgende generasie Luiperds help. Ek en Riaan het ’n passie vir rugby. Sy ondervinding as afrigter is ’n groot aanwins vir die Luiperds. Ek leer ook baie by hom en die spelers geniet sy manier van afrigting,” noem Swart.

Swart se afrigtingsfilosofie fokus op die ontwikkeling van spelers as geheel.

HP Swart in sy dae as speler by die Luiperds. Foto: Mario van de Wall.

“Ek beklemtoon spanwerk, respek, verantwoordelikheid en ’n wenmentaliteit. ’n Gelukkige span is ’n wenspan.”

Volgens Swart is die doelwit om Olënpark weer in sy volle glorie te sien en ’n paar groot spanne op hul tuisveld behoorlik skrik op die lyf te jaag.

“Elke speler weet wat ons wil hê en werk hard saam. Spelers druk mekaar op die veld en die broederskap onder mekaar is sterk.”

Swart noem dat talle afrigters en spelers ’n impak op sy loopbaan gehad het.

“Gerwyn Alexander, my o.21-Griekwas-afrigter, sowel as André Pretorius, Chaka Willemse, Jonathan Mokuena en Robert du Preez. Net om ’n paar te noem. Buiten die afrigters het ek saam met talentvolle rugbyspelers gespeel by wie ek inspirasie geput het om aan die volgende generasie Luiperds oor te dra.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button