Local newsNewsNews

R200 000-beloning op die spel vir inligting ná wrede plaasaanval op Donovan Marx

Die landbougemeenskap van Ventersdorp en Potchefstroom het kragte saamgesnoer in ’n poging om geregtigheid vir Marx en sy familie te help verseker.

’n Beloning van R200 000 word aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming en suksesvolle skuldigbevinding van die verdagtes wat na bewering betrokke was by die wrede plaasaanval waartydens die Potchefstroomse boer Donovan Marx ernstig beseer is.

Die landbougemeenskap van Ventersdorp en Potchefstroom het kragte saamgesnoer in ’n poging om geregtigheid vir Marx en sy familie te help verseker.

Die gemeenskap doen ’n beroep op die publiek om na vore te kom met enige betroubare inligting wat die polisie se ondersoek kan help. ’n Fondsinsamelingsveldtog is ook van stapel gestuur om die beloning moontlik te maak, met die boodskap dat elke bydrae, hoe klein ook al, ’n verskil kan maak.

Enigiemand wat inligting het, kan Kapt. Bonita Dry die ondersoekbeampte, by 082 373 7781 kontak.

Intussen bevestig Louise Marx en die familie dat Donovan steeds in ’n stabiele, maar ernstige toestand in die intensiewe sorgeenheid van Mediclinic Potchefstroom behandel word.

Donovan is op Woensdag 28 Oktober tydens die gewelddadige plaasaanval aangeval en ernstig beseer. Volgens ’n mediaverklaring wat die familie op 31 Oktober uitgereik het, is hy tydens die aanval geskiet, geskop, geslaan en met ’n mes gesteek.

Sy beserings sluit onder meer ’n skietwond in sy rug in, waar die koeël deur sy nier beweeg het, asook ernstige beserings aan sy dikderm, waarvan ’n gedeelte chirurgies verwyder moes word. Hy het ook ’n messteekwond aan sy been opgedoen.

Een van die mees traumatiese gevolge van die aanval is die amputasie van albei sy ore, wat volgens die familie ongelukkig nie chirurgies gered kon word nie. Daar bestaan moontlikhede om prostetiese oorrekonstruksie in die toekoms te oorweeg, afhangend van verdere mediese evaluering en sy herstel.

Die familie het ook sterk kapsie gemaak teen vals gerugte wat op sosiale media versprei word, veral bewerings dat Donovan se geslagsdele verwyder is. Die familie bevestig dat hierdie bewerings geheel en al onwaar is en doen ’n ernstige beroep op die publiek om op te hou om sulke ongegronde inligting te versprei.

“Die beserings wat Donovan wel opgedoen het, is reeds uiters ernstig. Daar bestaan geen regverdiging om verdere onwaarhede by te voeg, feite te verdraai of sensasie uit sy lyding te probeer skep nie,” lui die verklaring.

Die familie bevestig dat die SAPD se ondersoek steeds in ’n sensitiewe fase is en vra dat geen verdere besonderhede oor die ondersoek, moontlike verdagtes of leidrade in die media bespreek word nie.

Hulle het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor die talle mense regoor Suid-Afrika wat met gebede, boodskappe en aanbiedinge van hulp aan hulle dink. Die ondersteuning van die gemeenskap beteken volgens die familie baie in hierdie uiters moeilike tyd.

Die familie vra dat Donovan die geleentheid gegun word om te herstel en dat hul privaatheid gerespekteer word.

Die gemeenskap se boodskap is egter duidelik: Geregtigheid moet geskied.

Met ’n beloning van R200 000 op die spel, word enigiemand wat oor betroubare inligting beskik, versoek om na vore te kom en die polisie te help om diegene verantwoordelik vir die aanval aan die pen te laat ry.

Die publiek word gemaan om enige inligting aan die polisie oor te dra en onder geen omstandighede self verdagtes te probeer konfronteer nie.

Die voertuig wat tydens die aanval vermis geraak het, is volgens die beskikbare inligting steeds nie gevind nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.

Related Articles

Back to top button