Marianke Saayman
Sit Jou Voet Neer het op Donderdag 8 Oktober ‘n ma en dogter ete by die Snowflake-gebou gehou om dié inisiatief te bevorder. Die enigste toegang vir die ete was ‘n pakkie sanitêre doekies om die Dignity Dreams-projek te ondersteun.
Sit Jou Voet Neer is ‘n veldtog wat die afgelope paar maande soos ‘n veldbrand versprei het. Die veldtog is geloods deur ‘n jong aktrise, Kara van der Merwe, wat die rol vertolk van ‘n slagoffer van molestering in die nuwe film, Dis ek Anna. Die veldtog fokus op die bewusmaking van kindermishandeling en veral molestering. Die eerste gasspreker vir die dag was Alice Carnell, die provinsiale direkteur vir ChildLine Noordwes. Sy doen ‘n beroep op alle Potchefstromers ouer as 16 jaar om die film te gaan sien en om ‘n idee te kry van die werklikheid van kindermolestering. Alice sê dat hulle by ChildLine daagliks met kinders werk wat deur mishandeling geraak is.

Janet Potgieter was ook een van die gassprekers en het meer vertel oor die Dignity Dreams-projek waarby sy betrokke is. Janet werk met kinders en vroue in die Republiek van die Kongo, en help honderde dogters wat maandeliks skool moet mis omdat hulle nie sanitêre produkte kan bekom nie, met haar projek.


Kara van der Merwe het ook meer vertel van die Sit Jou Voet Neer-projek en hoe hulle saam met ChildLine en Dignity Dreams gaan werk om ‘n verskil in kinders se lewens te maak. Vir meer inligting, like dié projek se Facebookblad, asook Dignity Dreams en ChildLine South Africa.




