Twee verdagtes in hegtenis geneem na plaasaanval op Donovan Marx
Twee vedagtes is vandag (Saterdag, 31 Oktober) gearresteer rakende die plaasaanval van Donovan Marx, 'n boer van Syferfontein, Ventersdorp.
Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die gewelddadige plaasaanval en poging tot moord op die Ventersdorpse boer, Donovan Marx. Die polisie het vanaand in ’n perskonferensie bevestig dat twee van die drie verdagtes vandag in hegtenis geneem is. Marks is tydens die voorval op Woensdag, 28 Oktober, geskiet, met ’n mes gesteek en sy ore is afgesny.
Luitenant-generaal Peter Adams, die Noordwes-polisiekommissaris, het kapt. Bonita Dry, die ondersoekbeampte en haar span bedank vir hul werk wat tot die inhegtenisneming van die twee verdagtes gelei het.
Hy het ook bevestig dat Marx se voertuig, wat tydens die voorval deur die verdagtes weggeneem is, vanoggend verlate in die Eleazer-omgewing gevind is.
Adams het ook die breër gemeenskap bedank wat deel was van die soektog na die verdagtes. Dit sluit kollegas van private sekuriteitsmaatskappye in wat reeds sedert die voorval aangemeld is, onverpoos gewerk het.

“Ons wil ook die boere in die Ventersdorp-omgewing bedank wat selfs so ver gegaan het om ’n beloning uit te loof vir inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes sou lei, asook elke persoon wat inligting gedeel het wat gehelp het om hierdie gevoellose misdadigers vas te trek.
“Ons sal nie rus voordat ons verseker het dat almal wat by die aanval betrokke was, agter tralies is nie,” het Adams gesê.
Marx sterk steeds in die Mediclinic Potchefstroom aan. Die polisie het ook bevestig dat hulle die nuus oor die inhegtenisneming van die verdagtes met hom en sy familie gedeel het.



