CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Droogte knou, damme word leeg

“Die droogte raak ons kwaai, daar is basies niks meer kos in die veld nie.”

“Die droogte raak ons kwaai, daar is basies niks meer kos in die veld nie.”
So sê Roan van Tonder, boer en lid van Agri Potchefstroom.
Die land ly tans onder ‘n baie erge droogte, een van die ergstes die afgelope 50 jaar.
Volgens Jannie Keet, graan- en veeboer en voorsitter van Agri Potchefstroom, gaan die land hongersnood beleef as dit nie binnekort baie reën nie.
Kospryse gaan baie duur word, “ek glo die prys vir mielies gaan vandag sowat R5 000 per ton wees waar dit verlede jaar om en by R2 000 was”, sê Keet.
Vleispryse gaan ook styg omdat boere nie meer weiding het nie en beeste nou noodgedwonge geslag moet word voor hulle van die honger vrek. Koeie en kalwers, sowel as dragtige koeie, word geslag omdat daar nie kos is om hulle te voer nie.
Dit gaan veroorsaak dat daar volgende jaar ‘n tekort aan vee gaan wees en vleis baie duur word,” sê Keet.
Baie boere rondom Potchefstroom moes gewasse afsny om beeste te voer. Van daardie gewasse was mielies wat veronderstel was om meel te produseer, maar moes nou as veevoer gebruik word net sodat die beeste nie vrek nie”.
Keet sê al reën dit nou baie gaan dit nie dadelik ‘n verskil maak nie. “Ons het nog net twee maande groeiseisoen oor vir weiding.”
Ek weet van baie boere wat nou aan depressie begin ly as gevolg van die droogte”.
Hy sê daar gaan volgende jaar ‘n tekort aan mieliesaad ook wees weens die feit dat 50% daarvan afgekeur is. Al is volgende jaar ‘n baie nat seisoen, gaan daar steeds ‘n tekort aan mielies wees, sê Keet.
Nie net is die min reën ‘n probleem nie, maar die hewige hitte veroorsaak ook dat gewasse vrek. “Ek weet van boere wat sojabone plant. Die boontjies het klam grond, maar brand van bo af dood,” sê hy.
Hierdie week word temperature tot in die 40’s vir Potchefstroom verwag.
Damme in en rondom Potchefstroom het ook baie minder water as gevolg van die droogte. Die Departement van Waterwese sê verlede jaar dieselfde tyd was Boskop- en Potch damme 101% vol. Nou is Boskopdam 81% en Potch dam slegs 69% vol. Die ander damme wat die omgewing rondom Potcheftsroom beïnvloed is Klerkskraaldam (62%), Klipdriftdam (72%), Elandskuil (7%) en Rietspruit (6%). Laasgenoemde damme is so te sê leeg en boere in daardie area kry nie meer water vir besproeiing nie.
Die gemiddelde persentasie van water in die damme is nou ‘n skrale 45% waar dit ‘n jaar gelede 69% was.
Potchefstroom se waterkanale kom van Boskopdam. Volgens Keet kan dit ‘n probleem word omdat Potch dam leeg word en die Mooirivier nie loop nie. Kanaalwater word in die dorp aangewend en boere kry dan nie hul water nie.
“Die stadsraad sal moet begin dink daaraan om waterbeperkings in te stel sodat mense water meer spaarsamig kan gebruik”.
Hoewel die damme leeg raak, word die Gerhard Minnebron, een van die belangrikste voedingsbronne van die Mooirivier, blykbaar nie deur die droogte geraak nie. Volgens Peter Coulter, eienaar van die plaas waar dié belangrike bron van water vandaan kom, het dié oog nog geensins gesak nie en word daar nog sowat 160 miljoen liter per dag daaruit voorsien.
“Ek glo nie meeste mense in die dorp besef regtig hoe droog is nie,” sê Keet, “almal moet asseblief saam met ons bid vir die reën. In die moeilikste tye sal God in kom en wonderwerke laat geskiet.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button