NewsNews

‘My stem het hees geraak van al die geskree’

“My stem het hees geraak, my mond droog van al die geskree en my hande het gepyn.” So vertel ’n eiendomsagent oor haar ervaring nadat sy onlangs tydens ’n rooftog vir ongeveer drie ure in ’n badkamer vasgekeer was.

“My stem het hees geraak, my mond droog van al die geskree en my hande het gepyn.”
So vertel ’n eiendomsagent oor haar ervaring nadat sy onlangs tydens ’n rooftog vir ongeveer drie ure in ’n badkamer vasgekeer was.
Die agent, Magda le Roux (57), het verlede Donderdag ’n afspraak met ’n man gehad om vir hom ’n woonstel te wys wat te huur is. Die man het Le Roux omstreeks 08:40 by die hek van die kompleks in Hitgestraat ontmoet.
“Alles was normaal. Hy en ’n ander man saam met hom het saam my ingekom en al die normale vrae gevra soos of die kompleks stil is en of daar diere aangehou kan word,” het Le Roux vertel.
Sy het toegelaat dat hulle die woonstel op hulle tyd bekyk. Een van die mans het haar later gevra om te kom kyk omdat die toilet in die badkamer lek. Le Roux is na die badkamer en terwyl sy gekyk het wat fout was met die toilet, het een van die mans ’n vuurwapen uitgehaal en dit op haar gerig.
“Ek het eers gedink hulle maak ’n grap en gevra ‘wat maak julle nou?”
Le Roux het toe agtergekom dat hulle ernstig is. Hulle het geëis dat sy haar selfoon en motorsleutels op die wasbak neersit. Daarna is haar hande met cable ties vasgemaak.
“Hulle het vir my gesê om my skoene uit te trek en in die bad in te klim. Ek was heeltemal geskok, ek wou by hulle weet wat hulle met my gaan doen en hoekom hulle dit aan my doen?” vertel sy.
Volgens haar was hulle reaksie bloot “armoede mevrou.”
Terwyl hulle Le Roux vasgemaak het, het hulle haar ring en haar horlosie gevat. Die verdagtes het toe haar bankkaart geneem en haar geheime nommer geëis.
“Eers het ek gedink om vir hulle die verkeerde nommer te gee, maar een van die mans het vir my gesê as ek lieg gaan hy terugkom.
“Dit is asof die Here ’n kalmte oor my gebring het en ek het maar vir hulle die nommer gegee,” vertel Le Roux.
Een van die verdagtes is daar weg om geld te gaan trek en kort daarna is die ander een ook weg nadat Le Roux se mond toegeplak is.

Le Roux by die toilet wat die verdagtes vir haar gesê het lek.
Le Roux by die toilet wat die verdagtes vir haar gesê het lek.

Na ’n ruk kon sy daarin slaag om die kleefband van haar mond te kry en het begin skree, “maar daardie tyd van die dag is almal by die werk, so daar was maar min mense”, sê sy.
Uiteindelik omstreeks 12:00 het ’n werker in die kompleks Le Roux se geroep om hulp gehoor. Hy het haar man gebel, wat die polisie ontbied het.
“My man het die deur afgeskop om by my te kom.”
Haar voertuig is later naby Krugersdorp gevind.
“Ek kry soms in die aand terugslae wanneer ek van voor af die voorval beleef. Dit word egter beter, die Here het sy hand oor my gehou.
“Tog was dit ’n ‘wake up call’ vir my en ander eiendomsagente. Ons kan nie meer alleen uitgaan om vir kliënte huise te gaan wys nie.”
Le Roux is baie dankbaar teenoor die polisie vir hulle vinnige, professionele diens asook al haar kollegas en familie vir die ondersteuning.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, word ’n saak van huisroof ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button