“Sy is verbind tot die stryd teen misdaad, sy huiwer nie om oortyd te werk sodat alle dossiere behoorlik ondersoek word, tonele gefynkam word en die voorlopige ondersoek binne 48 uur afgehandel word nie.
Sy loop altyd die ekstra myl, dié werksetiek ly tot haar sukses.” So beskryf sers. Riana Keka se bevelvoerder haar. Keka se sukses spreek vanself. In die byna ses jaar as ’n speurder by die Ikageng speurtak het sy reeds twee moordenaars lewenslank tronkstraf laat kry, asook gesamentlik ongeveer 242 jaar se tronkstraf vir ander misdadigers wat aanranding, verkragting roof en diefstal insluit. Sy is in 2013 aangewys as die beste speur-sers. in die provinsie.
Sers. Keka se loopbaan het in 2002 begin toe sy vanaf haar tuisdorp van Louwsburg in Natal by die polisiekollege in Chatsworth aangesluit het.
“Ek wou altyd ’n soldaat gewees het, maar in Louwsburg het ek net nooit die geleentheid gekry nie,” vertel Keka.
Keka het haar taktiese opleiding by Hammanskraal en Jakkalsdans voltooi waar sy in Augustus 2003 in die aanklagkantoor in Louwsburg begin werk het. Volgens Keka is sy altyd op die uitkyk vir nuwe uitdagings en geleenthede, daarom het sy die verplasing Potchefstroom toe in 2008 aanvaar, waar sy weer in die aanklagkantoor aangewend is. In 2010 het Keka se bevelvoerders haar genader om by die speurtak aan te sluit. Sy het dadelik die nuwe uitdaging aangegryp en het in 2011 haar ROC-kursus voltooi.
“Ek dink hulle kon sien dat ek potensiaal het om ’n goeie speurder te word,” vertel Keka.
Vir Keka is haar werk haar lewe, wanneer sy nie dossiere ondersoek nie sal jy haar in die gimnasium aantref, besig om te oefen.
Sy het al amper alles opgeoffer vir die liefde van haar beroep as ’n speurder. Haar jong dogter woon by haar ma omdat haar ure baie ongewoon is. “Dit is dalk een van die groot nadele vir my, die abnormale ure wat ek insit. Ons is vroeg op om verdagtes in hegtenis te neem en laataande word ons besig gehou met misdaadtonele. Ek is ’n pyn as dit by ondersoeke kom, ek laat geen steen onaangeroer tydens ’n ondersoek nie,” verduidelik Keka.
Dit is duidelik as daar gekyk word na haar netjiese stapel dossiere dat die vrou pynlik en presies is met haar ondersoeke. Selfs al werk sy onder groot druk, volgens Keka het sy 71 dossiere wat sy moet deurwerk waarvan 55 van die dossiere reeds in die hof is. Boonop is sy nog die enigste vrouespeurder by die Ikageng tak(afgesien van haar bevelvoerders).
“Ek is betrokke by al die fasette van die ondersoek, van die eerste ondersoeke by die toneel, na die hantering van die nadoodse ondersoeke, ek probeer selfs sover moontlik die bewysstukke self inteken en verpak,” vertel Keka.
Keka en speurders soos sy hanteer gru-tonele van moord maar vir haar is daar nie ’n toneel wat vassteek in haar geheue nie. “Elke toneel is erg, omdat daar iemand dood is. Dalk tonele waar kinders betrokke is, is vir my erger omdat ek self ’n ma is,” vertel Keka. Sy praat vlot, Afrikaans, Engels, IsiZulu, IsiXhosa asook SeTswana. Sy glo dat mense hulself makliker kan uitdruk in hulle moedertaal. “Mens het ’n baie sterk band met die gemeenskap waar jy werk nodig. Hulle help met inligting wat jy dalk nêrens anders sou gekry het nie,” vertel Keka. Tog het dit ook sy nadele, omdat Keka self erken dat sy ’n hegte band bou met veral die families van die slagoffers in die sake wat sy hanteer. Maar vir haar is dit ’n aansporing om alles moontlik te doen om ’n saak op te los. “Een van die beste dele van die werk vir my, is om ’n goeie resultaat in die hof te kry wat moordenaars en verkragters vir lank agter tralies laat sit. Die waardering wat die familie na die tyd toon beteken vir my baie. Maar daar is enkele gevalle waar dit baie frustrerend is as die hofbeslissing ’n beweerde moordenaar vryspreek,” vertel Keka.
In sers. Keka se 14 jaar as ’n lid van die SAPD het sy baie brûe moes oorsteek, maar haar volharding het haar deurgetrek tot waar sy vandag is, ’n regte soldaat van die wet.



