NewsNews

Fratsongeluk eis renjaer se lewe

’n 62-jarige tydren-entoesias is Saterdag in ’n fratsongeluk dood terwyl hy en sy boesemvriend hul geliefde sportsoort beoefen het...

’n 62-jarige tydren-entoesias is Saterdag in ’n fratsongeluk dood terwyl hy en sy boesemvriend hul geliefde sportsoort beoefen het.
André Retief het saam met sy vriend, Paul Maré, aan ‘n tydren op Kameel naby Vryburg deelgeneem.
Hulle het Saterdag reeds 130 kilometer van die wedren afgelê toe hul sandmaster 23 ratkasprobleme ondervind het. “Ons het toe besluit om van die wedren te onttrek,” het Paul aan die Herald vertel.
Met die hoop om so spoedig moontlik terug te keer na die plek waar hul diensvoertuie geparkeer is, het hul op ‘n breë grondpad beland. “Ons het deur ‘n watersloot gery en etlike meters daarna het ek ‘n klapgeluid aan die kant van die voertuig gehoor en toe begin die stuurwiel heen-en-weer ruk.”
Die voertuig se regtervoor beheer-arm het afgebreek en die voertuig het buite beheer teen ‘n sandbank opgery en uiteindelik dwars teen ‘n kameelboom tot stilstand gekom. “Ek het dadelik vir André gevra of hy seergekry het, waarop hy geantwoord het dat hy niks makeer nie,” sê Paul.
Volgens hom het André self sy veiligheidsgordel losgemaak en sy valhelm afgehaal. “André het toe gesê sy linkerbeen is baie seer en my gevra om hom uit die motor te help, maar ek het eerder die voorsitter gebel,” sê hy. Binne tien minute was Flip Welman, voorsitter van Africa Off-road Racing, op die ongelukstoneel met twee paramedici en twee ambulanse.
“Toe paramedici na hom omsien was André die hele tyd by sy positiewe en dit het glad nie gelyk of hy enige ernstige beserings opgedoen het nie,” sê Paul. “Hulle het hom in die ambulans gelaai en hom na Vryburg se privaathospitaal geneem. In die hospitaal het André vier hartaanvalle gekry, waarvan die laaste een sy lewe geëis het.
Die nadoodse ondersoek kon nog nie vasstel hoe ernstig sy beserings was nie.
Paul wil rally-liefhebbers verseker dat dié ongeluk nie as gevolg van die wedren was nie, maar dat dit ‘n fratsongeluk was. Indien hulle met ‘n gewone motor en nie met ‘n rally-motor gery het, was hulle waarskynlik albei dood.
André het sy lewe lank ‘n liefde vir wedrenvoertuie gehad. Volgens Paul het hy in sy jonger dae met motorfietse gery, maar die afgelope twee jaar het hulle met spesiale voertuie en Sand Masters gery. André het geen naby familie gehad nie, maar het ‘n baie spesiale vriendskap met Paul gehad.
“Sy hart se punt was my driejarige seuntjie. Hy was soos ‘n oupa vir hom.” Paul se skoonma was met André getroud, maar hoewel die huwelik twee jaar gelede tot ‘n einde gekom het, was Paul tot sy laaste dag André se boesemvriend, vertroueling en spanmaat.
“Hy was ‘n man met ‘n hart van goud wat homself sou benadeel om iets vir ander mense te doen.
Hy was baie netjies op homself en afgesien van sy ouderdom, sou hy nooit terugstaan vir enige uitdaging nie,” sê Paul.
“Dis vir ons bitter hartseer dat hy weg is.”

Die Sand Master 23 spesiale voertuig waarin Paul Maré en André Retief verongeluk het.
Die Sand Master 23 spesiale voertuig waarin Paul Maré en André Retief verongeluk het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button