CommunityNews

10 Vrae: Darren Kruger, die diereheld

Potchefstroom se eie diereheld gesels met die Herald...

 

‘n Mens sien gereeld sy naam op Facebook waar iemand hom “tag” in een of ander inskrywing oor ‘n hond wat mishandel word of ‘n kat wat seergekry het. Ja Darren Kruger is in Potchefstroom bekend as die diereheld.
Die Herald het besluit om met Darren te gesels oor wie hy werklik is.

1. Jy is op Facebook bekend as die diere beskermingsman, hoe voel jy hieroor?
Ek voel trots en geëerd. Ek weet mense vertrou my om altyd in beste belang van die diere op te tree en ek sal altyd help waar moontlik. Ek voel dis my Skepper en Vader se doel met my en ek lewe dit uit.
2. Wat is jou beroep?
Ek het my eie plaagbeheer maatskappy en is betrokke met veral die hervestiging van vlermuise uit huise se dakke en navorsing op alternatiewe “groen plaagbeheer”.
3. Hoe lank was jy by die DBV betrokke?
Ek was een jaar ondervoorsitter en nege jaar voorsitter en is nou vir vyf maande voorsitter van Paws, ‘n dierewelsynsorganisasie wat ons self op die been gebring het.
4. As kind, het jy reeds ‘n liefde vir diere gehad?
My ma is vroeg in my lewe oorlede en ek het vir ‘n jaar by my oom gebly in Walvisbaai. Ek het klomp rondloper siek hondjies en katjies uit ‘n winkelkompleks naby hulle huis gaan haal, versorg en probeer huise kry. Dit alles skelm uit my oom se visvangkamer uit. Ek het op ‘n stadium amper 30 diertjies daar gehad.
5. Waar het jou liefde vir diere vandaan gekom?
Ek het van kleintyd af ‘n sagte plek vir diere en dink dis maar ‘n roeping wat ek moes volg. Ek is ‘n groot man, maar huil soos ‘n kind as ek diere sien ly.
6. Wat is jou gunsteling dier?
Ek is lief vir alle diere, maar hou baie van wolwe. Dis my droom om eendag wolwe in hulle natuur soos in Alaska of Siberië te gaan bestudeer en ondervind.
7. Help jy net troeteldiere, of help jy wilde diere ook?
Alle diere maak vir my saak en ek is altyd daar vir hulp met alle diere.
8. Wat wil jy in die volgende 10 jaar met Paws bereik?
Ek sal graag Paws in ‘n wêreldsirkel wil sien en ‘n groot rehabilitasiesentrum vir beseerde diere saam met Paws hardloop. Ek sal ook Paws as ‘n raad wil gebruik om by wette oor dierewelsyn betrokke te raak. Ons het van die beste bestuur, inspekteurs, personeel en komitee in die land en glo ons kan ‘n groot verskil maak met goeie besluite.
9. Wat maak jou woedend as dit kom by hoe mense in Potchefstroom diere behandel?
Mense in Potch is taamlik goed opgevoed as dit by dierewelsyn kom. Daar is ‘n paar mishandelings wat plaasvind en ons probeer ons bes om boosdoeners te vervolg en voorbeelde te maak. Maar ‘n ding wat my in die krop steek is mense wat onnodig teel en dan die diere weggee as hulle dit nie verkoop kry nie. Diere is nie OTM masjiene nie, en moet nie gebruik word om geld mee te maak nie.
Geregistreerde telers is ‘n ander saak as hulle omsien na die welstand van die ras waarin hulle kennis het en hulle is ook betrokke by daardie ras se “rescue”. Mense moet die verantwoordelikheid neem en hulle diere steriliseer.
10. Het jy troeteldiere? Indien ja, vertel my meer van hulle.
Ek bly op ‘n kleinhoewe en het baie diere: perde, eende, ganse, skape, hoenders, hasies, poue, varkies, honde, katte, bokke en ‘n mal kalkoen.
Meeste van die diere het as “rescues” by ons opgeëindig.
Dis tog wat ons Skepper wou gehad het toe hy ons as Sy oppassers oor Sy skeppings gemaak het: dat ons in harmonie kan saamleef. Ek is baie gelukkig om ‘n pragtige vrou te hê wat my passie deel en my bystaan in wat ek aanpak, sy ondersteun my baie en lig my op as ek partykeer voel ek kan nie meer nie.
nie meer nie.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button