NewsNews

Waarskuwing al in Desember oor aanval in Weiveld-distrik

Daar was al in Desember 2015, kort voor die aanval op die 73-jarige Loedie van der Westhuizen, gewaarsku teen ’n verwagte plaas roof in die omgewing van die Weiveld Silo’s in die Weiveld-distrik.

Daar was al in Desember 2015, kort voor die aanval op die 73-jarige Loedie van der Westhuizen, gewaarsku teen ’n verwagte plaas roof in die omgewing van die Weiveld Silo’s in die Weiveld-distrik.
Volgens die dokument op ’n polisie briefhoof wat die Herald se susterskoerant, Parys Gazette, onder oë gehad het, het die polisie se misdaadintelligensie-eenheid in Sasolburg oënskynlik reeds op 30 November inligting gehad oor ’n moontlike roof op ’n plaas naby die Weiveld silo’s. Dit sou glo in Desember wees. In die dokument word pertinent genoem dat die verdagtes ’n vuurwapen het, maar nie ammunisie nie, en dat dit glo met die aanval gebruik sou word. Ook dat hulp gekry sou word van ’n “polisielid”. Drie inwoners van ’n woonbuurt buite Sasolburg asook plaaswerkers sou glo volgens die inligting betrokke wees om die boer te beroof. Geen inligting oor die boer se naam of die plaasnaam word gegee nie, hoewel die Weiveld-distrik duidelik genoem word.
Die waarskuwing oor die moontlike plaasroof in die onmiddellike omgewing van die Weiveld silo’s is telefonies maar ook skriftelik aan Kobus Dannhauser, voorsitter van die Parys Distriks Boere-Unie deurgegee. Dannhauser het aan Gazette bevestig dat hy vroeg in Desember gewaarsku is oor die moontlikheid van die roof en dat hy ook die waarskuwing onmiddellik so deurgegee het aan boere in die direkte omgewing van die silo’s.
Hy het ook bevestig dat boere in die omgewing deur polisielede wat nie aan hulle bekend is nie, persoonlik ingelig is oor die inligting. Ook die plaaslike stasiekommissaris van die Parys-polisiestasie het aan Gazette die bestaan van die dokument bevestig en dat hy gevra het dat die boere gewaarsku moet word. ’n Afskrif van die betrokke polisiedokument is daarna deur die plaaslike polisie aan die boere wat volgens die inligting geraak word, vroeg in Desember oorhandig, nog voor die aanval op Loedie van der Westhuizen op sy plaas Biesiesbult naby die Weiveld silo’s.
Teen hierdie agtergrond gesien is dit nie verrassend dat soveel boere die dag van 6 Januarie gereageer het toe hulle die noodroep van Loedie van der Westhuizen ontvang het nie.
Nagenoeg 40 boere het onmiddellik gereageer en hom te hulp gesnel en is Samuel Jubeda en Simon Tjixa wat verdink is van die plaasaanval by Van der Westhuizen, op ’n buurplaas in hegtenis geneem. Maar wat op daardie dag skeefgeloop het tydens die arrestasie, sal waarskynlik eers openbaar word wanneer die verhoor van die 11 beskuldigdes eindelik begin.
Loedie van der Westhuizen se eie seun, Boeta (46), sy kleinseun, Loedie jr. (18), Anton Loggenberg (49) en sy seun Cor (18), ’n polisiekaptein, kapt. Henk Prinsloo (46), Fanie Oosthuizen (42), Wian van der Westhuizen (20), Muller van der Westhuizen (19), Wikus van der Westhuizen (19), Miela Jansen van Vuuren (22) en ’n minderjarige is onder die beskuldigdes wat tereg staan op die twee klagte van moord. Die saak is nou uitgestel na 17 Junie.
Een van die kernvrae wat egter steeds beantwoord moet word is waar die vuurwapen is wat Loedie van der Westhuizen se aanvallers klaarblyklik met die aanval gebruik het.
Ook die bespiegelinge oor of dat daar dalk meer as twee aanvallers kon wees aldan nie.
Brig. Hangwani Malaudzi, Valke-woordvoer, is deur Gazette gevra oor die vordering van die ondersoek ná die plaasaanval.
Hy het gesê die Valke ondersoek net die moorde en dat Gazette by die plaaslike polisiestasie moet gaan hoor watter vordering gemaak word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button