Die lekkergoed-gegeurde hoesstroop brousel wat deur rap sangers in die buiteland gewild gemaak is , is al vir jare bekend, maar dokters is bekommerd oor kinders in Suid-Afrika wat toenemend op soek is na hierdie gevaarlike ‘high’.
In ‘n onlangse waarskuwing deur skole in die Kaapprovinsie word daar teen hierdie nuwe dwelmtendens gewaarsku wat reeds baie gewild is onder plaaslike tieners. Daar word gevrees dat dit reeds na ander provinsies versprei het.
Die tuisgemaakte dwelm, genoem Sizzurp (ook bekend as ‘purple drank’, ‘syrup’ and ‘lean’), is ‘n mengsel van kodeïen gebaseerde voorskrif hoesstroop en koeldrank soos Sprite. Dit word soms ook gemeng met lekkergoed en een of twee parasetamol tablette.
Die dwelm is veral gevaarlik omdat al hierdie items vrylik beskikbaar is en by die huis gemeng kan word .
Die kodeïen, wat ‘n opiaat is , lewer ‘n gevoel van euforie. Die hoesstroop bevat ook ‘n dwelm genoem prometasien, wat dien as ‘n kalmeermiddel.
Die dwelm word dikwels op ‘n leë maag ingeneem om die gevoel van die “high” sterker te maak.
Die Clinix Health Group beveel ouers aan om op hoogte te bly met die nuutste tendens en om veral bewus te wees van hul tieners wat hoesstroop aankoop.
“Die wettige ouderdom vir die ontvangs van skedule 1- en 2 medikasie is 14 jaar, daarom is dit ouers se verantwoordelikheid om hulle kinders te monitor en in te lig oor die gevare van die dwelm,” sê Bernadette Campbell, verpleegsbestuurder by Clinix Health Group.
Die dwelm kodeïen is ‘n dissosiatiewe dwelm met ‘n soortgelyke uitwerking soos Ketamien, wat ‘n soort van ‘out of body’ ervaring veroorsaak.
Die gevaar is dat die bestanddele in isolasie redelik onskuldig is, maar wanneer dit gekombineer word is dit baie gevaarlik. Sizzurp het nie ‘n merkbare reuk nie, dit produseer ‘n intense ‘high’ en het aanvanklik minimale newe-effekte. Kodeïen kan verslawing veroorsaak.
“As ‘n mens ‘n oordosis inneem kan dit tot aanvalle lei. Sodra ‘n persoon verslaaf is kan hulle nie net ophou nie. Hulle sal aan erge ontrekkingsimptome ly en vir ‘n rukkie baie siek wees, “sê Campbell.
Clinix beveel aan dat ouers enige medikasie wat hulle by die huis het toesluit . Enige ou voorskrifdwelms moet weggegooi word. Ouers moet ook met hulle kinders praat oor die gevare van hierdie drankie.



