
Talle studente is bang dat hulle moontlik nie op 3 Augustus tydens die munisipale verkiesing sal kan stem nie.
Onderwysstudente van die NWU se Potchefstroomkampus is dan besig met hul proefperiodes.
Die meerderheid van die onderwysstudente proef elders as in Potchefstroom en sal nie net vir een dag kan deurry om te kom stem nie.
Volgens Hans-Jurie Moolman, voorsitter van die DA Koukus in Potchefstroom, sal studente slegs kan stem waar hulle geregistreer het en die enigste manier hoe hulle op ’n ander dag as 3 Augustus sal kan stem is om aansoek te doen by die OVK om ’n spesiale stem uit te bring.
“Ons wil ‘n beroep doen op alle studente om waar dit enigsins moontlik is op 3 Augustus in Potchefstroom te stem. Dit was nog nooit so belangrik dat mense hulle stemme gebruik nie,” sê Moolman.
Die stemdag, 3 Augustus, is ook aangekondig as ’n openbare vakansiedag.
Mense wat wel wil aansoek doen vir spesiale stemme sal vinnig moet spring omdat die sluitingsdatum van die aansoeke reeds hierdie Vrydag (8 Julie) om 17:00 is. Spesiale stemme is beskikbaar vir alle geregistreerde kiesers insluitend gestremde, siek of swanger mense, sowel as lede van die sekuriteitsmagte, verkiesingsamptenare, die media en enige ander stemmers wat nie op 3 Augustus sal kan stem nie.
Daar is twee maniere om spesiale stemme uit te bring. Die eerste is huisbesoek, net beskikbaar vir gestremde, siek of swanger mense, waar verkiesingsamptenare die kiesers by hul huise besoek om hul stemme uit te bring. Die tweede is by ’n stemlokaal.
Spesiale stemme word net toegestaan aan stemmers wat aansoek gedoen en goedkeuring gekry het. Aansoeke vir spesiale stemme is nou aanlyn beskikbaar by www.elections.org.za en deur die kieser se ID nommer te SMS na 32249 (SMS’e kos R1).
SMS versoeke is ook net vir diegene wat by ’n stemlokaal wil stem en nie vir huisbesoeke nie.
Vir meer inligting besoek die plaaslike OVK kantore by 12 Lukestraat.



