
Die gemeenskap van Potchefstroom en Ventersdorp se harte is oop na ‘n ongeluk waarin oud-Volkie, Jandré Venter (19), sy been verloor het.
Duisende rand is reeds ingesamel om te help met Jandré se mediese kostes en om vir sy nuwe kunsbeen te betaal.
Familie en vriende het Saterdag 2 Julie ’n dans tussen Potchefstroom en Ventersdorp gereël om geld in te samel. Talle mense het kom dans en so ‘n bydrae tot Jandré se lewe gelewer.
Volgens Jandré se tannie, Tresia Bouwer, het dit baie goed gegaan. “Ons het R51 000 vir Jandré ingesamel”.
Verskeie items is tydens die funksie opgeveil en mense het hul harte oopgemaak en nog meer items of pryse vir die veiling geskenk.
Dit is al ‘n groot sprong na waar hulle wil kom. Jandré se prostese kos meer as R100 000 en hy het nog hospitaalrekenings daarby. Hy het nog baie hulp nodig om ‘n nuwe been te kan koop sodat hy sy droom kan bewaarheid om mense van God te vertel. Die motorfietsongeluk wat Jandré se lewe verander het, het in Mei vanjaar plaasgevind.
Sy linkerbeen geamputeer. Hy het na sy ongeluk nie moed verloor nie, maar wel ‘n nuwe hoop vir die lewe gekry.
“Hulle het my been probeer red, maar moes dit later afsit.”
Jandré sê dit het hom nie baie gepla dat sy been geamputeer moes word nie.“Die Here het my op daardie oomblik vasgehou – ek kon dood gewees het of breinskade gehad het.”
Hy sien sy ervaring as ‘n geleentheid vir die Here om deur hom te werk en so ander mense ook van God te leer. Sy droom is om, sodra hy ‘n nuwe been gekry het, saam met die sendeling, Paul Steyn, deur die land te loop en geld in te samel vir mense wat prostese kort en die Woord te verkondig.
Steyn het ook sy been verloor en het toe die Paul Steyn Foundation gestig om ander mense van God te leer en fondse in te samel vir mense wat nie prostese kan bekostig nie.
Jandré sê hy kan nie wag om sy been te kry sodat hy die Woord kan gaan verkondig aan ander mense wat dalk dieselfde oorgekom het, maar hoop verloor het. Dit is sy grootste doelwit. Hy het voor die ongeluk gereëld vir die Here gevra om hom te gebruik, en volgens hom is sy vrae nou beantwoord.
Jandré se ma, Amora, sê dankie aan almal wat gehelp het om die aand ‘n sukses te maak, veral André en Tresia Bouwer en Elmarie Senekal. Sy bedank ook die gemeenskap van Ventersdorp en Potchefstroom vir hul groot bydraes en ondersteuning.
Enige ander skenkings wat kan help om vir Jandré prostese te kry, kan in die volgende bankrekening inbetaal word: JA Venter, Standard Bank Brits, rekeningnommer 421990147.





















