’n Gesin wat Sondag, 26 Junie in hulle huis beroof is, het die selfoon wat gesteel is, tot in Johannesburg nagespeur.
Rudolph Pretorius is in sy huis in Lupinestraat deur drie verdagtes, waarvan een met ’n koevoet gewapen was, aangehou. Hy kon gelukkig die paniekalarm by sy huis druk, waarna die verdagtes in hulle voertuig gevlug het. Mooirivier Beskerming het op die noodroep gereageer en is na die toneel, terwyl hul beheerkamer Pretorius se selfoon gebel het. Een van die verdagtes het die selfoon geantwoord en vir die beheerkamer vertel dat alles in orde is.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, het hulle onmiddellik geweet dat die man wat geantwoord het, nie Pretorius is nie en voortgegaan met die reaksie. Die selfoon is onmiddellik na die oproep afgesit, maar is die volgende dag weer aangesit, waarna Pretorius dit deur middel van sy ‘find my iphone app’ in Johannesburg se middestad nagespeur het.
“Dit was op die hoek van Dolly Rathebe en Mintstraat,” het hy gesê.
Hoewel die selfoon nie verder gevolg kon word nie, het Pretorius se vrou ’n vreemde boodskap op WhatsApp ontvang.
“Die gesprek het begin met die man wat gevra het of ons ’n iphone verloor het,” vertel Pretorius.
Die nommer waarvan die boodskappe gekom het, het geblyk dat dit van Indië af kom.
“Ons het probeer om die man te oorreed om die foon by hom terug te koop, maar hy was bang omdat die mense by wie hy dit gekry het, hom sou aanrand,” vertel hy.
Die man het glo foto’s aangestuur wat op die foon was. Na ’n lang gesprek het dit geblyk dat die man nie die foon aan Pretorius gaan terugbesorg nie, maar hy het kontak gemaak om uit te vind of hy al die familiedata soos foto’s van die foon kan afhaal sodat hy die foon kan gebruik.
Hoewel Pretorius nog probeer het om die selfoon terug te kry, het die man opgehou om sy boodskappe te beantwoord.
Dit is onduidelik hoe hulle vir Pretorius opgespoor het.
“Die foon is seker nou al uitmekaar gehaal. ‘n Nuwe skerm vir daardie foon kos omtrent R2 400, so as hulle net die skerm kan gebruik, is dit al die moeite werd,” het Pretorius gesê.
Daar is moontlik ‘n verbintenis tussen die groep wat Pretorius beroof het en ’n voorval Sondagoggend, 3 Julie omstreeks 11:30 in Pigeonlaan in Mooivalleipark.
Dieselfde modus operandi is gevolg. Drie verdagtes wat die hek van sy spoor af gelig het en een van die verdagtes was met ’n koevoet gewapen.
Gelukkig het die inwoners die verdagtes gesien, waarna hulle weggehardloop het. Die voertuig waarin die verdagtes gevlug het, is glo dieselfde soort voertuig as wat in Lupinestraat gebruik is.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



