Danksy die ruimhartigheid van verskeie Potchefstromers gaan sowat 56 behoeftige gesinne vanjaar ‘n beter Kersfees hê.
Die Herald het vanjaar ‘n projek geloods waar inwoners per SMS hul Kerswense kon stuur.
Aan die einde van die wenstydperk is 63 wense ontvang.
Uit die wense was dit duidelik dat daar talle behoeftige mense is wat oor Kerstyd geen geskenke vir hul kinders kan koop en/of ‘n heerlike maaltyd vir Kersfees kan voorberei nie.
Daar is aanvanklik gehoop om ten minste vyf wense te laat waar word. Die Kerswense is gepubliseer en Potchefstromers is gevra om te kyk waar hulle kan help.
Met die ongelooflike reaksie wat ontvang is, het meer as 30 wense intussen waar geword.
Geskenke het ingestroom en ons kon vinnig die Kerswense op die lys begin afmerk.
Van die geskenke het items ingesluit soos speelgoed en baba-benodighede vir ‘n ma met ‘n klein baba en nog ‘n ma wat tans swanger is.
‘n Jong man het by die kantoor ingekom met ‘n splinternuwe fiets en ‘n vrou met ‘n selfoon met ‘n simkaart en lugtyd.
Potch Mooi Rotary en die Round Table het sakke vol splinternuwe speelgoed wat ons vir kinders toegedraai het.
Pick n Pay Vanderhoffpark het 10 houers kos en hoender geskenk, elk te waarde van sowat R600.
Die Lions Club het ook vinnig ingespring en gaan twee persone help om in die nuwe jaar brille te ontvang met hulle Lions Operation Brightsight-projek.
Nog skenkings wat ontvang
is:
‘n Man het met ‘n R1 000 kontant by ons kantoor aangekom en nog ‘n leser, wat die berig op ons webtuiste gesien het, het van oorsee af R2 000 inbetaal.
Herald-personeel het ook R1 200 gegee. Hiermee is nog kospakke en geskenke gekoop.
Met die projek is sowat R9 000 se kos ingesamel en kan talle gesinne die Kersseisoen help. Die Potch Mooi Rotaryklub het ook besluit om met behulp van die Round Table en die Lions Club ’n driegang maaltyd as ‘n Kersete by 14 behoeftige gesinne op Kersoggend af te lewer.
Met die Herald se normale Kersfonds was NG Welsyn in staat om saam met skenkings van ander instansies hulp aan 41 gesinne te gee. Met die Kerswens- en Kersfondsprojek is tot dusver 56 behoeftige gesinne en of individue gehelp. Die Herald is vasbeslote om hierdie ‘n jaarlikse projek te maak. Ons spog nie met hierdie berig nie, ons gee net graag erkenning aan ’n wonderlike gemeenskap.










