Potchefstroom se matrieks het behoorlik uitgeblink in die Noordwes-resultate van die matriekgroep van 2016.
Potchefstroom Gimnasium het ook baie prestasies ingeryg en spog as die skool met die meeste onderskeidings (lewensoriëntering uitgesluit) in Noordwes.
Hulle het ook die hoogste matriekvrystellingsyfer (90.27%) van alle skole in die Noordwes.
Hoër Volkskool het ook hul merk gemaak met Luné Smit wat aangewys is as die toppresteerder in Noordwes vir 2016.
Sy het ‘n gemiddeld van 94,5% behaal en het vir ses van haar sewe vakke in die 90’s, en 100% vir rekeningkunde. Sy is ook die toppresteerder vir rekeningkunde.
Walter Lemmer van Gimmies is as die top leerling in wiskunde aangewys, met ‘n persentasie van 99%.
Tweede in die provinsie is Linika Lemmer van Lichtenburg Hoërskool met ‘n gemiddeld van 93,88% en derde is Tshepahalo Seobi van Potch Girls High. Tshepahalo het ‘n gemiddeld van 93.72% behaal.
Sy het agt vakke geskryf en het tussen 93% en 97% vir ses van haar vakke gekry en 87% en 89% vir haar ander twee vakke.
Nege Potchefstromers het onder die top 20 presteerders in die provinsie klaargemaak, waarvan vyf van Potchefstroom Gimnasium, twee van Potch Girls High, een van Hoër Volkskool en een van Ferdinand Postma is.
Hierdie leerders is Luné Smit (1ste) van Volkies, Tshepahalo Seobi (3de) van Girls High, Paige van der Poll (5de) van Girls High, Eliz-Maric Cronje (7de) van Gimmies, Adrian Vlok (12de) van Ferdies, Ilne Prinsloo (13de) van Gimmies, Jodean Rosin (14de) van Gimmies, Christelle Viljoen (15de) van Gimmies en Carla Kok (17de) van Gimmies.
In die kategorie van top skole in die kwantiteit kategorie het Gimmies ‘n tweede plek behaal, net onder Rustenburg Hoërskool, vir die meeste kandidate wat matriek geslaag het. Gimmies het weer ‘n 100% slaagsyfer met 185 leerders wat geskryf het.
Gimmies het ‘n eerste plek behaal vir die skool met die meeste toelatings tot hoër onderwys. 90.27% van hulle leerders het toelating gekry.
Al-Huda Muslim School is tweede en in die derde plek, met ‘n 87.5% toelating, is Girls High.
Gimmies was ook tweede in die kategorie vir die skool met die meeste leerders wat kwalifiseer vir ‘n graad, hulle is ook die skool met die meeste onderskeidings.
BA Seobi Secondary School in Ikageng het spesiale erkenning gekry omdat die skool uitgeblink het ten spyte van die omstandighede waar dit geleë is.
Die Potchefstroom skole se slaagsyfers is as volg:
Potchefstroom Gimnasium 100%
Potchefstroom Girls High 100%
Hoërskool Ferdinand Postma 100%
Hoër Volkskool 98.92%
Potchefstroom Boys High 98.8%
BA Seobi Secondary School 97.97%
Potchefstroom Secondary 94.92%
Seiphemelo Secondary School 89.47%
Tlokwe Secondary School 86.27%
Promosa Secondary School 84.75%
Boitshoko High School 84.35%
HTS Potchefstroom 77.05%
Botoka Comprehensive School 76.74%



