
’n Man is Saterdagoggend omstreeks 06:00 erg aangerand in die Vyfhoek-hoewes-omgewing, en dit vermoedelik vir drankgeld.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die slagoffer winkel toe geloop om sigarette te koop.
“’n Man wat aan hom bekend is, het hom gevra om vir hom ’n bier te koop,” vertel Manyoba. Die slagoffer het vir die man gesê dat hy nie geld het nie, waarna die man begin het om hom aan te rand.
“Verskeie lede van die gemeenskap het die man gesmeek om op te hou, waarna hy opgehou het,” vertel Manyoba.
’n Kort rukkie later het die verdagte egter met ’n fiets teruggekeer wat hy as ’n wapen gebruik het om die man verder aan te rand. Hy het R20 by die slagoffer geneem en van die toneel gevlug.
In ’n ander voorval is ’n man en sy suster Donderdagaand omstreeks 22:00 beroof.
Volgens Manyoba het die twee se voertuig in Potchefstroom gaan staan, waarna hulle hul versekeringsmaatskappy geskakel het om die voertuig weg te sleep.
“Hulle is na ’n kroeg in die wandellaan waar hulle ’n man ontmoet het,” vertel Manyoba.
Die man het glo vir hulle gesê dat hulle by hom kan oornag. Terwyl hulle in Piet Bosmanstraat naby die treinbrug geloop het, op pad na die man se huis, het hy skielik die broer met ’n mes in die kop gesteek. Die suster het probeer vlug, maar die man het haar met die mes gedreig. Hy het haar handsak gegryp en gevlug. ’n Saak van gewapende roof word ondersoek.



