
’n Wakker beampte by die voertuigtoetsstasie van die lisensiekantoor het ’n gesteelde voertuig opgespoor.
Frans Senne, bestuurder van dié toetsstasie, het soos oudergewoonte verlede Donderdag 12 Januarie, sy dag begin deur voertuie vir padwaardigheid te toets. Die dag sou wel een verskil hê, hy sou ’n gesteelde voertuig opspoor.
Volgens Senne het ’n man aansoek gedoen om sy voertuig deur die toets te sit. “Hy het reeds betaal by die kantoor. Dit is toe dat ek agterkom dat die VIN-, enjin- en onderstelnommers op die voertuig verskil van die op die dokumente wat deur die man ingevul is,” vertel hy.
Senne het dadelik op sy stelsel gekyk en gesien dat die voertuig gemerk is.
“Dit beteken dat ek dadelik die polisie moes skakel in verband met die voertuig,” vertel hy.
Die polisie het beslag gelê op die voertuig en daar is bevestig dat die voertuig gesteel is. Die voertuig word deur die polisie gehou vir verdere ondersoek. Die man wat die voertuig gebring het om getoets te word, is nie in hegtenis geneem nie, maar die ondersoek duur voort.
Senne het mense gewaarsku om seker te maak voor hulle voertuie koop.
“Vergelyk die VIN-, enjin- en onderstelnommers op die voertuig met die oorspronklike registrasiedokumente voordat jy die voertuig koop. As jy nie seker is nie kan enigiemand by die toetsstasie help. Ons sal op die stelsel kyk of alles pluis is,” het hy gesê.



