
’n Man is Sondag by die Potchefstroom dam deur ’n groep ouers voorgekeer nadat hy foto’s van hulle kinders by die swembad geneem het.
Theo de Koker, een van die ouers, het opgemerk hoe ’n man om die swembad beweeg en foto’s van onder meer sy seun neem.
“Daar was seker vier families wie se kinders afgeneem is,” vertel De Koker.
’n Ontstelde De Koker het die man genader om te vra waarom hy die kinders afneem, waarna die man net om verskoning gevra het.
“Hy kon of wou nie vir ons verduidelik waarom hy die foto’s neem nie,” vertel hy.
Carine Labushagne, wie se kind ook afgeneem is, het gesê die verdagte man se vriende het bygekom om te verduidelik dat hy nog nuut in die land is en nie geweet het dat dit verkeerd is om kinders af te neem nie.
“Ek het hom gevra of hy ’n paspoort het, waarop hy net nee gesê het,” vertel de Koker.
Hy het die polisie ontbied omdat die man se optrede en reaksie baie verdag was.
“Toe ek die polisie bel, het die beampte vir my gesê dat hulle ’n bakkie gaan stuur. Ek het Mooirivier Beskerming ook gebel omdat hulle ’n goeie reputasie in die dorp het,” vertel hy.
Mooirivier Beskerming het ook probeer om die polisie te ontbied, maar is deur ’n beampte laat weet dat daar nie ’n misdaad gepleeg is nie, daarom gaan die polisie nie ingryp nie.
Volgens Gary Boruchowitz, ’n prokureur van Johannesburg wat spesialiseer in vermaaklikheidsreg, is mense geregtig om foto’s van mense in openbare areas, insluitend minderjariges, te neem.
“Die enigste geval waar fotograwe toestemming van die ouers moet kry, is wanneer die foto’s vir kommersiële gewin gebruik gaan word, wat inskrywings by kompetisies insluit,” het hy verduidelik.
Hans Jurie Moolman, ’n prokureur van Moolman en Pienaar, is van mening dat, omdat daar ’n vermoede was by die klaer dat die man nie goeie bedoelings met die neem van die foto’s gehad het nie, die polisie ’n plig gehad het om ondersoek in te stel.
Volgens ’n verteenwoordiger van STOP (Stop Trafficking of People) in Potchefstroom is dit moontlik dat die man by mensehandel betrokke kan wees, maar sonder bewyse kan dit nie met sekerheid gesê word nie.
“Tog moet daar ’n rede wees dat hy die kinders se foto’s neem en kan dit tot ’n ondersoek lei,” het die verteenwoordiger gesê.
“Wat moet ons nou doen? Die polisie sê ons moet hulle laat weet oor verdagte mense en gebeure maar dan reageer hulle nie wanneer ons vir hulp vra nie. Dit is onaanvaarbaar en pateties. Tot wie moet die gemeenskap hul dan wend?” het De Koker gevra.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is ’n voertuig ontbied, maar na konsultasie is besluit dat daar geen misdaad gepleeg is nie en daarom is die voertuig nie gestuur nie.
“Die beampte was onder die indruk dat die situasie tussen die klaer en die man vriendskaplik opgelos is, omdat die verdagte verduidelik het dat hy nie geweet het dat dit verkeerd is nie en om verskoning gevra het. Ons streef daarna om alle mense in die gemeenskap te help en veilig te laat voel,” het Manyoba gesê.



