NewsNews

Hondeteler ontsteld oor klag van kliënt en PAWS

‘n Hondeteler in Potchefstroom oorweeg regstappe teen ‘n vrou wat ‘n baba Yorkshire-terrier by haar gekoop en nou glo probeer om skade aan haar besigheid aan te rig.

‘n Hondeteler in Potchefstroom oorweeg regstappe teen ‘n vrou wat ‘n baba Yorkshire-terrier by haar gekoop en nou glo probeer om skade aan haar besigheid aan te rig.
Dit volg nadat die Herald ‘n brief van me. Anja Esterhuizen ontvang het wat in Desember ‘n hondjie van Marlu Rose Yorkie House gekoop het. Die hondjie is enkele dae later dood aan die parvovirus, ‘n dodelike virus wat oorgedra word deur kontak met ‘n ander hond se ontlasting.
Esterhuizen sê dat sy ‘n nuwe hondjie beloof is, omdat sy beweer die hondjie reeds siek was toe sy hom by die teler gekry het, maar Jacqualine Swart, eienaar van Marlu Rose Yorkie House, sê dat dit onmoontlik is dat die virus by haar huis opgedoen is. Sy sê die nodige voorsorgmaatreëls word getref om seker te maak haar honde kry nie die virus nie.

Die hok waarin die honde was, was vuil toe PAWS daar was.
Die hok waarin die honde was, was vuil toe PAWS daar was.

Sy sê in die 12 jaar wat sy al ‘n teler is, is nog nie een van haar honde siek of dood aan die parvovirus nie.
Esterhuizen sê dis vir haar vreemd dat die teler nie toelaat dat kliënte na die hondjies kan kom kyk by haar huis nie, maar dat sy hulle eerder iewers in die stad ontmoet om die hondjies vir hulle te bring.
Swart se prokureur, mnr. Paul Aucamp, sê dit is hoofsaaklik om veiligheids- en gesondheidsredes dat sy kliënt verkies dat mense nie na haar huis kom nie.
Hy het namens sy kliënt die Herald genooi om die perseel op afspraak te besoek en self te sien wat die toestand van die honde is.

Die honde se tande toe PAWS daar was, was in 'n slegte toestand.
Die honde se tande toe PAWS daar was, was in ‘n slegte toestand.
Die honde se tande toe PAWS daar was, was in 'n slegte toestand.
Die honde se tande toe PAWS daar was, was in ‘n slegte toestand.

Met die Herald se besoek Dinsdag 31 Januarie is gevind dat die perseel waar die honde aangehou word baie skoon en netjies is. Die meeste van die honde woon saam met die eienaars in ‘n lugversorgde huis, honde met babas is in aparte plekke in die slaapkamer gehou en honde wat op hitte is, is in netjiese groot hokke teen die huis gehou.
Daar was nie tekens dat enige van die honde verwaarloos of siek is nie, almal het baie gelukkig gelyk.
Swart sê dis vir haar baie erg dat Esterhuizen haar besigheid wil skade aanrig deur koerant toe te gaan, aangesien haar honde soos haar kinders is en sy en haar gesin baie lief is vir die honde.
Volgens Aucamp is die bewerings wat Esterhuizen gemaak het ongegrond en bestaan daar geen feitelike basis daarvoor nie.

“Dit is jammer dat die persone die Herald wil misbruik om ongegronde bewerings te publiseer met die doel om ons kliënt se besigheid onherstelbare skade aan te rig,” sê hy.

PAWS (Potchefstroom Animal Welfare Society), in samewerking met die polisie, ondersoek ook tans ‘n saak van dieremishandeling teen die eienaars.
In September het PAWS inspekteur, Andries Venter, ‘n lasbrief bekom en het hy, sy kollega Soné Engelbrecht en PAWS se veearts, dr. Stallone Terera, die eiendom besoek waar die honde aangehou word.
Venter sê die toestand waarin die honde gevind is, was kommerwekkend. Die hokke was glo vuil en van die honde se tande was sleg.

Die hokke was baie skoon toe die Herald die perseel gaan besoek het. Foto: Marianke Saayman
Die hokke was baie skoon toe die Herald die perseel gaan besoek het. Foto: Marianke Saayman

Dr. Terera het ook toetse op die honde gedoen en al die toetse het getoon dat die honde ‘n abnormale hoë koors het. Drie van die honde was so siek dat PAWS hulle moes verwyder om verdere toetse te ondergaan.
Die eienaars kon op hierdie stadium nog geen kommentaar lewer oor die klag wat PAWS teen hulle ingedien het nie, omdat daar volgens hulle nog pleitstukke gewissel word. * Nog foto’s van PAWS op webwerf. www.potchefstroomherald.co.za

Die parvovirus kan voorkom word deur babahondjies die nodige voorkomingsinspuitings daarvoor te gee. Wanneer ‘n hondjie in kontak was met die virus, neem dit drie tot 10 dae voor die hondjie begin simptome wys. Simptome sluit in braking, geen eetlus en diarree.

Related Articles

Back to top button