Twee jong mans is Donderdagmiddag (2 Maart) omstreeks 15:00 in Coetzeestraat in hegtenis geneem. Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is hulle aangekla vir die besit van onwettige dwelms en gevaarlike wapens.
“Die polisie het ’n klag ontvang van twee verdagte mans naby ’n erf in Coetzeestraat,” vertel Manyoba.
Ao. Chris Stemmet en sers. Mapheto is na die toneel waar hulle die twee mans by die erf gevind het. Nadat die beamptes die twee deursoek het, het hulle messe in albei se besit gevind, asook vermoedelike onwettige dwelms by een van die verdagtes.

Die twee mans is onderskeidelik 18 en 19 jaar oud. Daar is bevind dat die 19-jarige in 2015 in hegtenis geneem is op aanklag van inbraak en weer in 2016 vir rooftog. Dié sake teen hom is steeds hangend. Tshepo Sekute (19) en Tshepo Moreetsi (18) het onlangs in die hof verskyn, waarna hulle vrygelaat is sonder om vervolg te word.



