
Veertien beeste se hakskene is oor die naweek afgekap, waarvan die meeste se boude en blaaie daarna lewend uit die beeste gesny is.
Sowat twee ton vleis is op dié wyse Saterdagoggend op ’n plaas in die Potchefstroom-omgewing naby Parys gestroop.
Die “kapbende”, so genoem omdat hulle diere lewend opkap om die vleis te steel, het volgens Sarel van der Wat, ’n boer van die omgewing, veertien beeste gekap. Drie is nog by ’n veearts om te kyk of hulle gered kan word.
“Dit voel meer soos ’n terreuraanval. Dit is nou die derde voorval wat ons die maand in die onmiddellike omgewing het,” het hy gesê.
Marius Fouchè, eienaar van die beeste, het op sy Facebookblad gesê: “Ek as eienaar van die panga-slagting voel verpletter. Wat se pyn moet so ’n dier deurgaan? Ek vra almal om die video wat geneem is te versprei, sodat die wêreld kan sien wat hier aangaan, nie net renosterstropery nie, maar ook beesstropery.”
Volgens hom is ongeveer 26 beeste al op dieselfde wrede manier verloor. Hy is besig om die vier klein kalfies wat by hulle ma’s gevind is, te probeer red.

“As ’n ou se geloof nie sterk is nie, weet ek nie hoe mens deur so iets sal kom nie,” het Fouchè gesê.
Volgens Van der Wat is die beeste, waarvan almal dragtige koeie was, se hakskene met pangas afgekap sodat hulle nie kan loop nie. Daarna word die boude en blaaie uitgeslag terwyl die beeste nog lewendig is.
“Van die kalfies is by hulle dooie ma’s gevind. Die fetusse van die koeie wat nog nie gekalf het nie, is ook rondom die dooie beeste gevind,” sê hy.
Volgens Van der Wat lyk dit na ’n sindikaat-gedrewe misdaad, omdat te veel vleis gesteel is. “Ons ken potslagters, hul kom steel ’n skaap omdat hul honger is, nie sulke groot hoeveelhede vleis nie. Dié soort misdaad neem toe omdat die diewe die vleis per kilogram verkoop, verduidelik hy. Van der Wat het lede van die veediefstal eenheid, medeboere en ander wat gehelp het, bedank. Niemand is nog weens dié gru dade in hegtenis geneem nie.
Volg die skakel om die video te sien. Nie vir sensitiewe kykers.



