Gemeenskap staan saam en plant 70 olienhoutbome in Potch
Hierdie projek het drie hoofdoelwitte: Om gemeenskappe te bou, spanne en verhoudings te versterk en die omgewing te verbeter.
Die wortels van positiewe verandering is verlede Saterdag, 24 Oktober, gelê toe Rooting for Potch en vrywilligers van Love Potch hul groen vingers bymekaar gesit en 70 inheemse olienhoutbome by vier verskillende plekke geplant het.
Dit sluit Cachet Park op die Bult, Moovallei-sportterrein in Hennie Bingle-straat, Hoërskool Die Wilge en Lekwena Wildlife Estate in.
Love Potch het die toerusting verskaf en ook die nodige toestemming by die wyksraadslede en die munisipaliteit verkry.
Plaaslike inwoners en organisasies borg die bome en help om dit deur die loop van die jaar te onderhou.
Volgens Christoff Müller van Rooting for Potch, het dié inisiatief in 2024 ontstaan met die doel om verskillende besighede, individue en gemeenskapsgroepe bymekaar te bring om saam iets positiefs vir die dorp te doen.
“Mense kan bome borg, hul eie bome voorsien, self kom plant of bloot op enige ander manier ’n bydrae lewer,” sê Christoff.

Hy noem dat die projek drie hoofdoelwitte het: om gemeenskappe te bou, spanne en verhoudings te versterk en die omgewing te verbeter.
“Vir maatskappye bied dit ’n geleentheid om terug te ploeg in die gemeenskap, maar ook om hul personeel op ’n ander manier saam te bring. Die plantdag is lekker, dis buite, en dis harde werk. Al is almal teen die einde van die dag gewoonlik styf en seer, is daar iets besonders daaraan om terug te staan en die vrugte van jou eie handewerk te sien.”
Christoff noem verder dat die projek ook ander positiewe aspekte inhou, soos werkskepping vir inwoners van Huis Hebron en die bewusmaking van die belangrikheid van inheemse plantegroei in stedelike gebiede.
“Namate dorpe ontwikkel, word natuurlike plantegroei dikwels met paaie, geboue en ander infrastruktuur vervang. Dit dra onder meer by tot die stedelike hitte-eiland-effek. Deur weer bome en ander plantegroei te vestig, kan ons help om skaduwee te skep, die onmiddellike omgewing te verkoel en die ekologiese waarde van ons openbare ruimtes te verbeter.”
Daar word ook noukeurig oor die regte boomspesies besin. Sedert 2024 is die wilde-olyf (Olea europaea subsp. africana) een van die voorkeurspesies vir die projek, juis omdat dit goed aanpas in ryptoestande.
“Een van ons gereelde deelnemers het byvoorbeeld reeds begin om aandag te gee aan bestaande tuine by Cachet Park en te help met die vestiging van inheemse plante waar vorige aanplantings gesukkel het. Dit is lekker om te sien dat eie inisiatief geneem word.”

Rooting for Potch gaan nie net oor een boomplantdag per jaar nie.
“Ons is altyd oop vir nuwe idees, projekte en mense wat graag ’n positiewe verskil wil maak.”
Die droom is om Rooting for Potch op ’n stadium landwyd uit te brei.
“Die naam Rooting for Potch beteken vir my dat ons vir ons dorp staan, dat ons in ons dorp glo en dat ons aktief wil bydra tot die verbetering daarvan. Dieselfde geld vir Suid-Afrika. Dalk gebeur dit oor tien jaar, dalk oor vyftig jaar, maar vir nou vat ons dit jaar vir jaar en probeer ons elke keer iets positiefs bydra,” vertel Christoff.

Christoff bedank al die borge, deelnemers en helpers wat vanjaar gehelp het om die projek ’n groot sukses te maak.
“Ons wil mense inspireer om betrokke te raak, inisiatief te neem en saam iets positiefs te bou.”



