
Inwoners is moedeloos met die aanhoudende verstopping van die rioollyn in Smitstraat.
Volgens Johan Zerwick, wyksraadslid, is dit nou al ’n weeklikse gebeurtenis in dié straat.
“Inwoners van Smitstraat en die meisies van Girls High moet wakker word met die stank van riool. Die rioolwater vloei in mense se erwe en in die strate in,” sê Zerwick.
Hy het glo bewyse aan die munisipaliteit gelewer oor waar die verstopping vandaan kom, maar volgens hom word niks daaraan gedoen nie.
“Wanneer jy om 02:00 die oggend moet opstaan om jou vrou werk toe te neem net om die toilet te gebruik omdat jou eie toilet by jou huis oorstroom is, is dit mos nie reg nie,” het ’n woedende inwoner, wat anoniem wou bly, aan Zerwick gesê.

Die situasie in Promosa is glo nog erger, waar riool na bewering vrylik in die Poortjiedam stroom.
“Kinders moet met die stank saamleef terwyl hulle oorkant die pad speel,” sê hy. Voorts is die munisipale voertuig wat verstoppings moet verwyder glo stukkend en kos dit volgens Zerwick ongeveer R10 000 per keer om ‘n voertuig te huur.
“Iemand moet tog verantwoordelik gehou word vir die situasie, hoe kan ons mense so laat lewe?” vra hy.
Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, is hulle bewus van die herhaaldelike verstoppings in die rioollyn. “Die munisipaliteit is in gesprek met ’n maatskappy vanwaar die hoenderafval moontlik afkomstig is om ’n permanente oplossing te vind. Die distriksmunisipaliteit behoort ook deel van die gesprek te wees,” het Maphosa gesê.
Wat die Poortjiedam betref, is een van die pype glo deur ’n swaarvoertuig beskadig en volgens Maphosa is daar reeds kontrakteurs besig om die pyp te herstel. “Daar was probleme om materiaal in die hande te kry, maar die herstelwerk behoort teen die einde van die week klaar te wees,” het hy gesê.
* Die video oor die verstopping is op Potchefstroom Herald se webtuiste, www.potchefstroomherald.co.za te sien.



