
Twee munisipale beamptes in die Kantoor van Finansies van die voormalige Tlokwe Munisipaliteit, is op 23 Mei tydens ’n interne dissiplinêre verhoor aan onder meer korrupsie skuldig bevind.
Dit volg nadat hulle in Maart vanjaar tydelik geskors is. William Maphosa, munisipale woordvoerder, het in Maart aan die Herald gesê dat die beamptes geskors is nadat ’n voorlopige ondersoek op verskeie voorvalle gedui het waar die beamptes glo nie die verkrygingsprosedures gevolg het nie, asook moontlike bedrog.
Volgens Victor Boqo, woordvoerder van die burgemeester, is die twee beamptes reeds na die skuldigbevinding afgedank
“Die munisipaliteit sien hierdie soort optrede in ’n baie ernstige lig,” het Boqo gesê.
Volgens hom is albei beamptes skuldig bevind aan korrupsie, insubordinasie en versuim om te voldoen aan die gedragskode van die munisipaliteit.
“Een van die beamptes is ook skuldig bevind aan bedrog,” het Boqo gesê.
Die optrede van die beamptes het glo tussen Augustus 2015 en Februarie 2017 plaasgevind. Volgens hom het die beamptes nie die normale verkrygingsprosedures gevolg nie en seker gemaak dat spesifieke maatskappye tenders ontvang.
“Die beamptes het aankope opgedeel in kleiner bedrae sodat die normale tenderproses omseil kon word,” vertel Boqo.
Die beampte wat skuldig bevind is aan bedrog, het glo ook kwotasies van maatskappye gekry wat nie bestaan nie.
Volgens een van die beamptes is daar reeds geappélleer teen die bevinding. Hy wou nie verder uitbrei oor die saak nie, aangesien hulle nog besig is daarmee. Die Herald kon teen druktyd nie die kommentaar van die ander beampte kry nie.



