Die hooggeregshof in Johannesburg het bevind openbare skole mag nie ’n bepaalde geloof voorstaan nie.
Die hof het bevind dit is ‘n oortreding van die Onderwyswet om “een geloof of hoofsaaklik een geloof ten koste van ander te bevorder of die skool se personeel toe te laat om dit te doen”.
Adv. Hendrik van Nieuwenhuizen, vir Ogod (Die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie), het in sy slotbetoë gesê geloof kan ingevolge art. 15.1 van die Grondwet “by” skole beoefen word, maar nie “deur” skole nie.
Hy het gesê dit is in die belang van die Suid-Afrikaanse demokrasie dat openbare skole nie toegelaat word om ’n spesifieke godsdiens te bevorder nie, maar dat die keuse oor godsdiens by leerlinge lê.
Adv. Adrian d’Oliveira, die skole se regsverteenwoordiger, het gesê elke skoolgemeenskap is uniek en moet daarom toegelaat word om ’n godsdiensbeleid te kies wat die gemeenskap dien.
D’Oliveira het gesê hy wil hê die hof moet die skoolbeheerliggame se “wetgewende gesag” erken.
Netwerk24 berig meer volledig oor die beslissing



