
’n Man is Dinsdagmiddag dood en nog een is beseer nadat ’n granietblok op hulle geval het. Die oorledene is identifiseer as Khulekile Jan Mafe.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 17:00 by Stone Dynamics in Ross-straat plaasgevind. Volgens hom was die werkers glo besig om die granietblok oor te laai toe die blok op hulle val. Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het paramedici met hul aankoms een man buite die perseel sien lê wie ernstig beseer is, terwyl die ander man langs die granietblok binne die perseel gelê het.
“Daar was niks meer wat ons vir die man kon doen nie en hy is op toneel dood verklaar,” het Meiring in ’n verklaring gesê. Volgens Meiring is hy na Mediclinic Potchefstroom geneem vir verdere behandeling.
Die Herald het die man wat beseer is gekontak, maar hy het verkies om nie oor die voorval te praat nie.
Volgens Theo Adlam van Stone Dynamics, was hulle Woensdag te besig met die oorledene se familie om kommentaar oor die voorval te lewer.
Volgens Chaka gaan ’n geregtelike doodsondersoek gehou word.



