
‘n Man is Saterdagaand (29 Julie) met ’n mes gesteek nadat hy glo ‘n vrou met ‘n bottel oor die kop geslaan het.
Die voorval het omstreeks 20:30 by Shell in Nelson Mandelarylaan plaasgevind.
Mooirivier Beskerming het ’n panieksein ontvang nadat daar glo skote geskiet is. Met hul aankoms het hulle ER24 ontbied toe hulle ‘n man, wat verskeie kere met ’n mes gesteek is, daar aangetref het.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, het ’n man en vrou, wat in die dieselfde taxi gery het, glo in ‘n argument betrokke geraak, waarna die man haar met ’n bottel oor die kop geslaan het.
‘n Bakleiery het toe tussen dié man en ’n groep mans wat buite gestaan het, ontstaan.
’n Omstander het glo skote geskiet om die bakleiery stop te sit. Nadat die skote geskiet is, het almal weggehardloop, maar die man wat met die mes gesteek is, het bly lê.
Die polisie is intussen na die toneel ontbied. Paramedici van ER24 het die man hospitaal toe geneem vir verdere behandeling.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is daar nog nie ’n klag by die polisie oor die voorval aanhangig gemaak nie.




