Wie onthou nog vir Alabama?
Lennie Gouws Vir baie jare was die eerste week in Augustus Alabama-week in Potchefstroom. Dan was die Sanlam-Ouditorium van die NWU-PUK vir tot soveel as sewe vertonings die tuiste van dié Studentegeselskap. Alabama was so gewild dat sowat vyf jaar na die laaste vertoning in 2007 daar nog navraag gedoen is wanneer daar weer ’n …


Lennie Gouws
Vir baie jare was die eerste week in Augustus Alabama-week in Potchefstroom. Dan was die Sanlam-Ouditorium van die NWU-PUK vir tot soveel as sewe vertonings die tuiste van dié Studentegeselskap.
Alabama was so gewild dat sowat vyf jaar na die laaste vertoning in 2007 daar nog navraag gedoen is wanneer daar weer ’n Alabama-vertoning gehou gaan word. Die Alabama Studentegeselskap het baie gedoen om die Universiteit en Potchefstroom landwyd bekend te stel. So dankbaar was die stadsraad van Potchefstroom dat hulle in 1990 ’n huldigingsertifikaat aan Alabama oorhandig het as “openbare erkenning en waardering vir die besondere bydrae” wat hulle vir Potchefstroom gelewer het.
Die eerste nasionale toekenning wat Alabama ontvang het, was in 1969 toe die geselskap se eerste langspeelplaat ’n Mini-Sari-toekenning gekry het. Die Sari-kompetisie is deur die destydse Springbok Radio georganiseer om die beste musiekkunstenaars in Suid-Afrika aan te wys. Alabama het dié jaar die Mini-Sari gewen as mees belowende sanggroep. In 1993, toe Alabama 50 jaar oud was, het die ATKV en die Afrikaanse Sakekamer van Pretoria, Alabama met toekennings vereer. In 1994 het die FAK ’n oorkonde aan Alabama gegee.
Alabama was eers ’n boereorkes 
Die PUK Alibama-boereorkes is in 1943 gestig. ’n Ongelukkige gebeurtenis op kampus in 1942 het gesorg dat al die inwoners van Heimat geskors is. Talle is hertoegelaat, maar heelwat moes in die dorp losies vind. Van dié studente het saam by hulle nuwe blyplek begin musiekmaak. Die gedagte is geopper om met ’n groep bestaande uit ’n orkes, sangers en volkspelers te toer en planne is vir die eerste Alabama-toer gemaak. Die program het ook kort toneeltjies ingesluit. Die naam “Alibama”, later Alabama, kom van die volksliedjie “Daar kom die Alibama”. Later is gevoel dié naam is te volksvreemd en het die groep vir ’n jaar lank bekendgestaan as die Sarie Marais-boereorkes. Dit was nie gewild nie en die ou naam is teruggeneem.
Alabama se gewildheid het afgeneem nadat talle soortgelyke toergroepe die platteland begin besoek het. In 1960 is daar besluit om die formaat te verander. ’n Oudlid, Nesco du Toit, toe bibliotekaris in Klerksdorp, het ’n operette Deur Vier Wêrelddele, geskryf. Dit is gevolg deur Aggenee, Bettie! Met elkeen van dié operettes is daar twee jare getoer. Nog ’n operette Die drie Astertjies, het gevolg. Om beter te pas by die nuwe formaat, is die naam van die groep in 1962 verander na die Alabama Studentegeselskap.
Johan van Rensburg het in 1964 musiekleier van Alabama geword. Dit was ook die enigste jaar in Alabama se bestaan van 64 jaar dat daar nie getoer is nie. Dit was ’n strafmaatreël nadat Alabama-lede die vorige jaar tydens die toer glo gedans het. Johan is in 1962 as matriekseun gevra om, tweede dae voor die wintertoer vertrek, as trompetspeler saam te gaan. Die bestaande trompetspeler het skielik siek geword.

Johan het weer in 1966 musiekleier geword. Dié jaar het Alabama se item van ’n paar liedjies, tydens die jaarlikse Lentekonsert die oog van die PUK se skakelman, mnr Robbie Robinson, gevang en hy het Johan aangemoedig om ’n vollengte program geskoei op dieselfde lees saam te stel.
Dit was die eerste van Alabama se revueprogramme, waarvoor hulle gou landswyd bekend geword het.
Nesco du Toit het na ’n repetisie kom kyk en gereken dit is “te stil” op die verhoog en dat daar meer beweging moet wees. Daar is Alabama se choreografie gebore, wat in later jare uiters professioneel geword het.
Drukker gee revue sy naam
Die program het ook nie ’n naam gehad nie toe Johan en Nesco ’n drukker in Klerksdorp besoek het om te reël vir die druk van die plakkaat. In 50 Jaar Alabama vertel Johan: “Die bestuurder van die drukkery was ’n Jood en nadat ek en Nesco vir hom die opset van ons program verduidelik het, was sy antwoord: ‘It sounds like a revue’. Net daar is die naam ‘Revue 67’ toe gebore. Ek het maar gemaak asof ek weet wat die woord ‘revue’ beteken, maar ek het eers by die huis die werklike toepaslike betekenis daarvan met die hulp van ’n verklarende woordeboek besef.”Alabama se nuwe program was dadelik gewild. Die eerste plaat is in 1968 gemaak op aandrang van Johannes van der Walt, Oud-Puk en omroeper by die SAUK. Met die plaat kon Alabama ook op die lug gehoor word.
Dié eerste plaat is met die Mini-Sari bekroon. Daarna is daar elke jaar ’n plaat gemaak. Die eerste CD is in 1992 van die produksie Deel Jou Glimlag, gemaak.
Toe Johan van Rensburg en sy vrou, Rina Hugo, in 1974 na die VSA is vir verdere studie, het sy broer, Louis, by hom oorgeneem as musiekleier. Hy het later die verhoognaam, Louis Drummond, gebruik om hom te onderskei van ’n Afrikaanse sanger met dieselfde naam.
In 1975 is Alabama se eerste televisieopname gemaak. Dit was vir uitsending in Rhodesië (tans Zimbabwe) toe daar dié jaar ’n toer na die land onderneem is. Met die koms van televisie in Suid-Afrika in 1976, was Alabama se TV-program jaarliks baie gewild.In 1980 het Jans Jonker by Louis Drummond oorgeneem en was tot 1987 die musiekleier. Hy is opgevolg deur Pieter de Bruin, wat die geselskap vir die res van sy bestaan gelei het. Alabama het die revue gevestig en ander universiteite het gou gevolg. Kovsies het in 1972 RUOVS gestig en in 1985 het Tukkies Gansdans op die planke gebring. Nie een kon egter by Alabama kersvashou nie en het die sukses van Alabama behaal nie. In 1984 is Alabama uitgenooi om Taiwan te besoek. Dié toer het vroeg in Januarie 1985 plaasgevind. Alabama het met nege vertonings voor sowat 20 000 mense opgetree. Twee blonde Alabama-meisies het die voorblad van ’n Taiwannese tydskrif gehaal.
Net te veel Toe daar in 2007 aangekondig is, dat dié jaar Alabama se laaste een was, het die skokgolwe deur die Universiteit, Potchefstroom en talle Alabama-ondersteuners landswyd gestuur.
Talle faktore het tot dié besluit aanleiding gegee. Vervoerkoste vir die geselskap, sy dekor en instrumente het astronomies hoog geword. Juis om hoë koste hok te slaan is al hoe meer vertonings gereël. Die standaard moes ook elke jaar hoër wees. Gevolglik het Alabama-lede letterlik geen vrye tyd gehad nie. ’n Oefenkamp tydens die April-vakansie is gevolg deur ’n toer in die Julie-vakansie. Naweke is daar opgetree en gereeld weeksaande gerepeteer.
Studente het nie meer hiervoor kans gesien nie en waar Alabama in die 1980’s en 1990’s lede kon kies en keur, het daar later net enkele aspirant Alabamas by oudisies opgedaag.
Alabama het egter die loopbane van talle bekende kunstenaars ingelui. Dit sluit Johan van Rensburg in, wat jare lank die leier van die televisievasvraprogram, Noot vir Noot, se orkes, die Musiekfabriek was. Dan is daar sy vrou, Rina Hugo, Karin Hougaard, Chanté Hinds, Helenè Bester, Anna Davel, Christa Steyn, Natasha Taljaard, Natasja Groeneveld, Suzette Eloff, Monique Carelse en Valeska Smith. Nog bekendes wat Alabama-lede was, sluit in Pieter Mulder, voormalige voorsitter van die Vryheidsfront Plus, Dirk Hermann van Solidariteit, Juanita Terblanche parlementslid van die DA en Bennie Bierman van die SAUK.
Alabama-lede het verskeie reünies gehou. In 1988 en 1993 is twee groot reünies gehou, met ywer georganiseer deur Horst Bütow en Peet Ryke, twee van Alabama se grootste steunpilare.



