Waar kom die geld vandaan? Is die prosedures gevolg?
Is die kontrak werklik waarde vir geld?
Dit is vrae wat die munisipaliteit, asook die Noordwes se Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA) tot op hede nie beantwoord het nie.
Dit nadat die Herald fakture van buitemaatskappye aangevra het wat wys dat die sowat R10 miljoen wat die munisipaliteit oor drie jaar aan die opgradering van die stelsel betaal, nie blyk markverwant te wees nie.
Een van die fakture wat die Herald by Du Pont Telecommunications gekry het, wys dat die stelsel vir sowat R2 miljoen aangekoop kon word.
Volgens Victor Boqo, woordvoerder in die burgemeester se kantoor, is ondersoek ingestel om na die prys van die stelsel te kyk wat gewys het dat dit billik en markverwant is.
Vrae oor die verslag van die ondersoek is tot op datum nie deur die munisipaliteit beantwoord nie.
Dr. Blaai-Mokgethi, munisipale bestuurder, is op rekord waar sy erken dat die normale verkrygingsprosedures nie gevolg is met die sluit van die kontrak nie.
Volgens haar was dit nie nodig nie omdat die kontrak van Ventersdorp verleng is na Potchefstroom nadat samesmelting met Ventersdorp plaasgevind het.
Die Herald het voorheen berig dat ’n kenner verbonde aan die Skool vir Openbare Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch, dr. Len Mortimer, gevra is vir sy mening.
“Die oorspronklike kontrak was tussen Ventersdorp en die diensverskaffer en my siening is dat dit geensins die saamgestelde owerheid verplig om dieselfde diensverskaffer te gebruik nie, aangesien die omvang van die oorspronklike tender aansienlik verander het.
“Uitbreiding van ‘n kontrak tot hierdie mate sou eintlik teen die beter oordeel van die meeste munisipale bestuurders wees,” het hy gesê.
Mokgethi het ook aan die Herald erken dat daar nie vir dié uitgawe begroot is nie, omdat die geld wat daarvoor gebruik is vanaf COGTA sou kom in die vorm van ’n toelaag wat die uitgawes verbonde aan die samesmelting sou dek.
Ben Bole, COGTA woordvoerder in die provinsie, het die afgelope maand alle telefoonoproepe, boodskappe en e-posse van die Herald geïgnoreer.
Volgens Hans Jurie Moolman, DA koukusvoorsitter, het hy by nasionale tesourie navraag gedoen oor die toelaag.
In ’n brief aan die burgemeester sê hy dat tesourie bevestig het dat die toelaag nie vir die opgradering gebruik moes word nie.
Hy sê ook in dié brief: “Ons het ook inligting ontvang dat die toelaag nie gebruik is nie, maar dat fondse uit ander dele van die begroting geneem is om vir die opgradering te betaal, omdat daar nooit vir dié uitgawe begroot is nie.”
Nasionale tesourie het aan die Herald gesê as spesifieke wetgewing en ’n regverdige en deursigtige proses nie gevolg is nie, die telefoonkontrak nie reg is nie.
Volgens hulle moes redes vir die omseiling van die normale prosedures voor die raad gedien het, maar Moolmam sê nog geen redes vir die besluit het voor die raad gedien nie.
* Die munisipaliteit is gevra om alle dokumente wat te doen het met die telefoonkontrak, aan die Herald beskikbaar te stel.



