
‘n 36-jarige motorfietsryer is vanoggend (24 Oktober) in Fochville dood nadat die motorfiets waarop hy gery het in ‘n vragmotor op die R500 vasgery het.
Paramedici van ER24 het omstreeks 07h00 op die toneel aangekom. Die motorfiets het in die middel van die pad gelê. Die liggaam van die man is twee meter verder gevind.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het die man baie ernstige beserings opgedoen en geen tekens van die lewe getoon het nie.
“Ongelukkig het die man reeds aan sy beserings beswyk. Niks kon vir hom gedoen word nie en hy is op die toneel dood verklaar,” het Meiring gesê.
Die bestuurder van die vragmotor het geen beserings opgedoen nie.
Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoeke.



